Gedagte vir die dag: Drome se vervulling kom saam met voorbereiding

riete_rivier_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ʼn groot volk nou in die lewe gebly het.” (Genesis 50:20 – AFR83)

Wanneer ons God se beloftes vir ons lewe ontvang, begin en eindig dit nie net by die ontvang daarvan nie. Nee, om ons Godgegewe doel vir ons lewe te vervul gaan gepaard met sommer ʼn groot hoeveelheid voorbereidingsprosesse. Die doel van hierdie voorbereidingsprosesse is om ons te help om die punt te bereik waar ons geestelik volwasse genoeg is om die verantwoordelikheid wat met daardie bevordering, wat die Here al vooraf vir ons beplan en bestem het, te kan hanteer.

Soms bid ons net soos Josef en vertrou die Here om daardie hartsdrome, deur Hom aan ons belowe, tot vervulling te bring, en dan, net soos Josef, bevind ons onsself eers in ʼn put of ʼn gevangenis op ons pad na die paleis.

Wanneer God ʼn groot plan vir jou lewe het, gaan dit ongetwyfeld gepaard met ʼn gelyke maat van voorbereiding. Daarom, moenie tou opgooi met die eerste struikelblok wat oor jou pad kom nie, maar sien dit eerder as ʼn trappie nader aan sukses. Veg die goeie stryd van die geloof en weet dat jou deurbraak naby is! God sal jou nooit bo jou vermoë beproef nie.

Ons Hemelse Vader begeer dat ons suksesvol moet wees, meer as ʼn oorwinnaar in Hom. Daarom, wanneer daardie moeilike tye kom, laat dit dien as ʼn herinnering van die groot vertroue wat die Here in jou stel. Deur sy genade is geen beproewing te groot vir jou om te oorkom nie; ek herhaal, in Jesus is jy meer as ʼn oorwinnaar! Hy sal alles vir jou ten goede laat meewerk omdat Hy jou oneindig en onvoorwaardelik liefhet! Moenie twyfel nie, glo net!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir elke belofte wat ek my eie mag maak…..op U my Rots is my vertroue…al verdien ek niks…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.