Gedagte vir die dag: Druk weer die herhaalknoppie

mense-op-strand-sonsondergang.jpg

Foto: Annelize Brits

Petrus vra vir Jesus: “Here, hoeveel maal moet ek ’n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?” “Nee,” verseker Jesus hom, “nie tot sewe maal toe nie, maar tot 70 maal sewe toe!” (Matteus 18:21-22)

Vergifnis is ’n goeie ding. Maar kom ons wees eerlik. Dis omtrent die heel moeilikste ding in die wêreld. Daar bestaan geen formule vir vergifnis nie. Geen kortpaaie om jou verby die skade te lei wat gedoen is of die tyd wat verlore is of die reputasie wat beskadig is of die menswaardigheid wat gesteel is nie. Daar is nie ’n sypaadjie om jou verby die woede te kry nie.

En tog hou mense aan om mekaar seer te maak, nie waar nie? Jy sal nooit die een of ander geestelike toppunt bereik en sê: “Wonderlik. Nou het ek al die vergifnis gegee wat ooit sal nodig wees” nie. Tog kan jy wel beter – en vinniger – daarmee raak, want oefening vorm die gewoonte wat die hart verander.

Vergifnis is soms ’n lang, herhalende proses van weer en weer na God toe gaan en alles weer neergooi, net om dit weer vinnig vas te gryp omdat dit te moeilik voel om die skuld af te skryf. Tog moet jy aanhou met die herhalende ritme, want die God wat vir jou krag gee, sou nie gesê het jy moet vergewe as dit onmoontlik was nie.

Glo jy dat God iets bonatuurliks in jou hart kan doen wat jou bemagtig om te vergewe?

Here, ek lê dit neer. Weereens. Help my om hierdie persoon te vergewe. Help my ’n jaar van nou af, ’n week van nou, oor vyf minute van nou af. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michelle ·

Dankie Here dat U in my hart gewerk het om mense te vergewe wat my so seergemaak het.
Dankie dat ek kon 70 x 7 vergewe. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.