Gedagte vir die dag: Drukkies is nodig

kinders_hardloop_veld_cannahealth_com.jpg

Foto: cannahealth.com

Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën. (Mark 10:16)

Lees Markus 10:13-16

Jesus was verontwaardig toe sy dissipels kinders wou verhinder om na Hom te kom. “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle,” het Hy vir hulle gesê (Mark. 10:14). Hierna het Hy sy arms om die kinders gesit en hulle geseën, berig Markus. Ek het al dikwels gewens dat ek een van daardie gelukkige kinders kon wees wat Jesus se hand op my kop of arm of om my skouer kon voel. Vandag is dit nie meer moontlik nie, maar óns kan nog Jesus se hande wees deur mense wat troos en bemoediging nodig het ’n drukkie te gee.

Kathleen Keating het ’n fraai boekie geskryf oor die terapie van drukkies: Alle mense, ongeag hulle ouderdom of status, het ’n behoefte aan ’n gevoel van veiligheid. As ons nie veilig voel nie, is dit asof ons nie doeltreffend kan funksioneer nie en minder plesier kry uit ons interaksie met ander. As ons egter ’n drukkie kry, word ons bewus van die ondersteuning van ’n medemens en skep ons weer moed vir ons dagtaak, beweer Keating.

Dalk is daar iemand naby jou wat smag na ’n drukkie. Wees in die vervolg minder suinig met jou drukkies. Deel hulle kwistig uit aan almal wat oor jou pad kom.

Here Jesus, help my om my persoonlike omgee vir ander te bewys en hulle te troos deur ’n drukkie of ’n aanraking. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.