Gedagte vir die dag: Druppels uit ’n heuningkoek

Argieffoto

Argieffoto

Lees: Psalm 19:8-12

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die bevele van die Here dui die regte koers aan. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. Die bepalings van die Here is reg. Hulle is soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. (Psalm 19:8-11)

Die voortreflikheid van heuning word deesdae oral besing – dit is voedsaam en besit genesende kwaliteite. Soos heuning, is God se Woord goed vir jou. Dit voeg waarde tot jou lewe en bevat werklik die sleutel tot ’n gelukkige lewe. “Sy Woord plaas ons lewe op ’n vaste koers, bied in alle omstandighede aan ons raad en help ons om die Here altyd te loof met ’n opregte hart. Daarom behoort dit ook ons strewe te wees om ons daaraan te hou,” berig Die Bybellennium (Die groot boek van Christelike aanhalings).

Indien jy vanjaar genoeg tyd met jou Bybel deurbring, sal dit, soos die eet van heuning, vir seker tot jou voordeel strek. Dit sal vir jou raad gee wanneer jy onseker is, jou bemoedig as jy probleme ondervind en jou troos as jy hartseer is.

Die Bybel maak dit ook vir jou moontlik om die toekoms in ’n positiewe lig te sien. As jy vertroud is met die beloftes in jou Bybel hoef jy nie die nuwe jaar met angs tegemoet te gaan nie. Al gebeur wat ook al, verseker jou Bybel jou dat God by jou is. Ook al sou dit jou laaste jaar op aarde wees, vertel jou Bybel jou dat God nou reeds vir jou ’n plek in die hemel gereedmaak waar jy vir altyd saam met Hom sal wees. Glo dit!

Vader, dankie vir u Woord wat vir my soeter as heuning is en my telkens verseker dat my toekoms nou reeds veilig by U is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.