Gedagte vir die dag: Eendag …

bos_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jeremia 3:15-18

In daardie tyd … In daardie dae … (Jeremia 3:17-18)

Dit is die Here se troosvolle belofte aan sy mense, aan Israel en Juda, wat deur sy profeet na hulle toe kom: Daar kom ’n dag dat alles weer ten goede sal verander. ’n Einde aan vyandige oorheersing, ’n einde aan broedertwis. Sal dit nie ’n wonderlike dag wees nie!

Helaas, sal ingeligte Bybellesers sug, daar sou nog baie water in die see moes loop voordat dit gebeur. Baie trane, baie pyn, verskeie murasies …

Ons lees hierdie gedeelte dus met “eendag” voorop in ons gedagte. Dié dinge sal later gebeur, weet ons. Só kry hierdie verhaal ook vir ons betekenis en vra dit ons om noukeurig te lees. Want deur mooi na hierdie beloftes te luister, kry ons dalk ’n idee van hoe die Here dink. Wat Hy reken sy swaarbeproefde kinders die nodigste sal hê wanneer daardie goeie dag aanbreek.

Allereers sê Hy: “Ek sal vir julle herders gee na my hart …” Leiers wat na sy skape sal omsien, wat hulle “verstandig en met insig” sal lei (v. 15).

Tog interessant dat die Here met die “herders” begin, die Eienaar se verteenwoordigers by sy mense. Dat Hy uitdruklik sê hulle sal leiers na sy Goddelike hart wees, en Hý sal hulle aanstel.

O, die ewige sug na leiers wat verstandig en met insig lei … Hoe universeel is dit nie, in die samelewing én in die kerk van Christus. Hoe diep die behoefte dat dit vroue en manne sal wees, deur God self aan ons gegee, wat nie op eiebelang fokus nie. Wat nie om strategiese redes saamstemmers en allerlei ander ambisieuses rondom hulle versamel nie. Wie se aandag op die swakste lammertjies in die trop toegespits is.

Wanneer kom daardie “eendag” tog, Here!

Liewe Here, maak my ’n onvermoeide soeker na u wil.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Frieda

Here U is vandag en elke dag met my Dankie!