Gedagte vir die dag: Eerbare mense

God-se-gawes.jpg

Argieffoto

’n Eerbare mens het eerbare bedoelings en hy kom op vir wat eerbaar is. (Jesaja 32:8)

Eerbare mense is waardige mense na wie jy kan opsien. Hulle is eerlik, opreg, onbesoedel en betroubaar en het goeie bedoelings. Hulle leef hul beginsels uit en sal eerbaarheid op enige gebied ondersteun. Dis mans en vroue op wie jy kan staatmaak, mense wat jou nie in die steek sal laat of teleurstel nie. Hulle is leiers na wie jy kan opsien.

Jesaja se koning en sy amptenare was oneerlik en korrup. Hulle het die volk uitgebuit, beroof en hul ondergang deur leuens bewerk. Dié wat die orde moes handhaaf, het weggekyk en gemaak of hulle nie hoor of sien wat aangaan nie. Dwase en skurke is aangeprys asof hulle goeie mense is. Hulle het nie omgegee oor die lot van die armes nie en hulle van honger en dors laat vergaan. Van geregtigheid was daar nie sprake nie.

Jesaja het benadruk dat daar geen eerbaarheid meer onder hulle was nie. Jesus het die Fariseërs se oneerbaarheid aan die kaak gestel en Hom sterk daarteen uitgespreek. Hulle was die mense na wie die volk opgekyk het en juis hulle het net ’n front van eerbaarheid voorgehou.

Jesus verwag van jou ook om eerbaar te wees en dit uit te leef. Is jy een van daardie oumas wat jou kleinkind leer om te jok oor sy ouderdom sodat jy nie nodig het om die ingangsfooi by die dieretuinhek te betaal nie? Laat jou kleinkind met sy sakgeld betaal of bly liewer by die huis, maar wees eerbaar en stel ’n voorbeeld voordat jy die predikant, die kerk of die president en sy kabinet kritiseer.

Liewe Here, ek bid vandag vir ons president om waardig, getrou en eerbaar te regeer. Ek bid vir wêreldleiers om die erns van hul taak in te sien. Ek bid veral vir Christenleiers wat hul beginsels moet uitleef in ’n vyandige wêreld. Sterk hul geloof en hou hulle gehoorsaam en onderdanig aan U wat hulle oor ons aangestel het.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Irene ·

Baie dankie vir hierdie Boodskap op n Maandag more dit is vir alle Suid Afrikaners bedoel God seen ons almal

Elna ·

Baie dankie vir die gedagte, ek dink as meer van ons vir ons land en ministers bid en ophou negatief praat sal dit met hierdie land net beter gaan. Ons land is in God se hande, ons moet net Hom vra om in te tree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.