Gedagte vir die dag: Eerlikheid

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Hulle kom sê toe vir Hom: “Meneer, ons weet dat u iemand is wat u mening eerlik uitspreek sonder om mense in aanmerking te neem. U is getrou aan die waarheid en so maak u die wil van God bekend.” (Mark 12:14)

Omdat Ek die waarheid praat, glo julle nie in My nie. (Joh 8:45)

Laat julle “ja” eenvoudig “ja” wees en julle “nee”, “nee”. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose. (Matt 5:37)

Eerlikheid en waarheid is onafskeidbaar. Eerlike mense hou by die waarheid. Sodra jy die waarheid begin verdraai, is jy oneerlik. Jesus was die waarheid verpersoonlik; daarom kon Hy verklaar: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Joh 14:6). Die absolute waarheid is die waarheid oor verlossing en lewe. Dis die waarheid wat in God se Woord opgeteken is. Wie van dié waarheid afwyk, word ’n prooi van die leuen, soos wat Satan so graag met die skyn van waarheid probeer verkoop.

Maar ons praat oor eerlikheid. En dit gaan oor meer as ’n erkenning van die waarheid oor verlossing en die ewige lewe; dit gaan ook oor die waarheid ten opsigte van ons elkedagse manier van lewe. Ons ja moet ja wees en ons nee moet nee wees. En hoe dikwels word hier nie ompaaie geloop nie. Dit is opvallend hoedat daar in eietydse sepies op die televisie onbeskaamd leuens vertel word – ’n openlike demonstrasie van oneerlikheid, en geen haan kraai daarna nie.

Die waarheid, en dus ook eerlikheid, maak soms seer. Jesus het sonder skroom die waarheid ten opsigte van huigelary by die Joodse leiers uitgewys. En dit het hulle woedend gemaak. Maar Jesus het ook gesê dat die waarheid ’n mens vry maak. Sodra ’n mens een keer oneerlik was, word dit opgevolg met leuen op leuen. Jy word belas met skuldgevoelens.

Wie van die waarheid afwyk, word ’n prooi van die leuen.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.