Gedagte vir die dag: Eet die Woord

Bybel_Kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol. (Esegiël 3:3)

Voordat Esegiël met die ballinge kon gaan praat, moes hy weet wat die inhoud van sy boodskap was. Soos in die geval van Jeremia het die Here sy woord op ’n besondere manier aan die profeet deurgegee. “Maak oop jou mond, en eet wat Ek jou gee!” Die Here vra nie van sy boodskapper om kennis te neem van sy Woord, of om hier en daar ’n interessante teks te onderstreep nie. Hy sê eenvoudig: Eet die woord. In die oorspronklike Hebreeus staan: “Vul jou buik en vul jou ingewande.” Soos ’n spons elke druppeltjie water opsuig wanneer jy dit onder ’n kraan hou, moet ons vol wees van die Woord van die Here, van die volledige Woord van die Here. Die hand wat die woord na Esegiël uitgesteek het, het ’n boekrol gehad wat aan albei kan te volgeskryf was: klaagliedere, treurliedere en smartroepe. Ons boodskap is ernstig, dit vertel van liefde en vergifnis, maar ook van oordeel. Nie net juigliedere nie, maar ook klaagliedere.

Esegiël het vertel dat die Woord soos heuning in sy mond gesmaak het. Dit was die ervaring van baie profete, ook dié van Johannes op die eiland Patmos. Die gryse apostel het vertel hoe ’n boekie na hom uitgehou is. Hy het dit geëet en dit was soos heuning in sy mond, maar bitter in sy maag (Op 10:10).

Hoofstuk twee in ons handboek herinner ons daaraan dat ons ook uit God se Woord moet lewe, dat ons dit moet eet. Dit help nie om net hier en daar ’n boekmerkie te hê of om oor ’n paar mooi tekste te praat nie. Ons moet weet waarvan ons praat. Ons moet die Woord verteer, dit ken, dit ons eie maak. Hoe getrou is jy daarmee?

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FM ·

Here dankie vir U Woord. Dankie dat ek dit mag lees. Dankie vir U genade en geduld. Dankie vir ‘n onversadigbare honger na kennis, onderskeidings vermoë en wysheid. Amen

Yvonne ·

Amen….dankie Here vir U Woord dat U my hart ken waar ek nie die regte woorde kan uiter nie U Gees dit by God uitbring…..ek vul my met U Woord…gee my n ontvanklike Gees…in Jesus Naam vra ek dit

Rubyn ·

Dankie vir die woord van elke dag. Ek leer so baie. Ek lees die woord elke oggend en doen my eie Bybel studie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.