Gedagte vir die dag: Effektiewe kommunikasie

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel. (Efesiërs 4:29)

Ek glo vas daarin dat ’n mens voor die hand liggende dinge moet sê. Die eerste ding wat ek doen as ek soggens wakker word, is om vir my vrou te sê dat ek haar liefhet. Ja, natuurlik weet sy dit, maar daar is soveel negatiwiteit en spanning in die wêreld dat ons mekaar moet opbou en verseker deur die voor die hand liggende dinge te sê. Swak kommunikasie kan wantroue veroorsaak en die verbrokkeling van ’n verhouding tot gevolg hê. Deur nie duidelik te kommunikeer nie, ontwikkel mense wanpersepsies en dan duik daar onnodige probleme op.

Ek voel dat daar op die oomblik in baie gemeenskappe ’n gebrek aan effektiewe kommunikasie is. Praat met die mense om jou, vra hulle raad, ruil idees uit. Die oplossings vir jou uitdagings lê dalk so naby as langsaan by jou bure.

Ons moet ook effektief kommunikeer met ons werknemers en werkgewers. Ons moet mekaar opbou en duidelik sê wat ons van mense verwag en wat ons self doen. Dit bou sekuriteit en vertroue in die span. Dieselfde beginsel geld by die huis. Praat met jou gesin en sê vir hulle hoe dit met jou gaan.

Dis waar dat daar deesdae baie uitdagings is: die weerstoestande, die ekonomiese situasie, die politieke klimaat. Ons het mekaar meer as ooit tevore nodig. Ons moet saamstaan en mekaar daagliks bemoedig. Ons moet na ons kollegas, werknemers, kliënte en vriende omsien en hulle aanmoedig.

Die gesin wat saambid, sal nie uitmekaarval nie. Dis onmoontlik vir my om saam met my vrou te bid as ons oor iets gestry het. Ons moet ons verskille besleg voordat die ligte saans afgesit word. Die Bybel sê ons moenie tot die aand toe kwaad bly nie (Efesiërs 4:26).

Kom ons hou die weg oop sodat ons helder, duidelik en eenvoudig kan kommunikeer.

Liewe Here, ek bid dat U ’n wag voor my mond sal sit sodat my woorde te alle tye positief, opbouend en eerbiedig sal wees. Herinner my daaraan om gereeld vir my gesin te sê hoeveel hulle vir my beteken. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.