Gedagte vir die dag: Egskeiding

watter-pad-om-te-neem1.jpg

Argieffoto

Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe af gebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. (Ps 40:2-3)

Daar is soveel intense emosies by ’n egskeiding betrokke. Wie se skuld is dit? Is die skade onherstelbaar? Moes ek maar liewer weer probeer het? En dan woede en bitterheid. Later die beskuldigings. Verwerping deur familielede. Eensaamheid. En as daar kinders is, die aanpassing van ’n gebroke huis. ’n Nuwe manier van lewe. Enkelouer … Soveel ontwrigting.

Moet net nooit die seerkry van ’n egskeiding onderskat nie. Meesal sien ’n mens dit nie raak nie. Iemand wat huil oor ’n geliefde wat dood is, huil openlik en mense verstaan en simpatiseer. Maar die geskeide rou in eensaamheid, bang vir die verwytende kyke.

Die teksvers kom uit die mond van ’n man wat in die put van ellende was. En dit maak nie saak watter omstandighede daartoe aanleiding gegee het nie, die feit is dat ’n mens daardie ellende as ’n put vol modder ervaar. Hoe dikwels gaan ’n egskeiding nie met moddergooiery gepaard nie. Die strak, afgeremde gesigte in die skeihof getuig van onbeskryflike moegheid.

En wat nou? Doen wat die psalmdigter gedoen het: roep na die Here. Hy verstaan jou pyn, moegheid en eensaamheid. En as jy skuld het, vergewe Hy dit wanneer jy dit bely. Hy wil jou uit die put uithelp en jou voete op ’n rots plaas. Hy wil die pad vorentoe saam met jou loop. Vertrou Hom.

En vir ons wat na die geskeide moet uitreik: moenie na oorsake soek of beskuldig nie. Wees net God se omgeehart vir daardie persoon. Gee net liefde.

Die Here wil jou weer op ’n rots laat staan.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cindy Bester ·

Dis hartseer want ek loop dieselfde paadjie, met 2 pragtige seuns….en ek ons kry swaar…weet nie hoe om deur dit te kom nie…..

trudy ·

Jonk getroud en het uit die staanspoor berading nodig gehad. Sy antwoord was : gaan jy maar as jy dit nodig het. So was dit jaar in en jaar uit. Na 16 jaar kom die onvermydelike. Sonder keuse moes ek my drie jong kindertjies vat en alleen op my eie voortgaan. Hulle het groot geword sonder om hulle pa te sien. Hulle was altyd verwerp. Toe kom die dood van my volwasse seun tien maande terug. Pa sit in die kerk en huil soos n baba. Alles het vir hom te laat gekom. GEEN TOTSIENS, GEEN EK IS JAMMER OOR VERSPEELDE JARE EN LIEFDE NIE. Jy sal dit maak al gaan dit hoe moelik, ons Hulp kom van Bo!! Staan sterk.

Loukie ·

Cindy my hart gaan uit na jou toe,ek is ook daar deur en vandag is ek weer gelukkig,weet net dat God is in beheer,Sterkte.

pj ·

Dit is bitter en hartverskeurend maar weet net Cindy die son breek weldra deur en laat die lig weer skyn. Glo net in God en plaas al jou vertroue op Hom die geneser. Spreek vry en vergewe en alles sal regkom.

Anoniem ·

Gaan in jou binnekamer op jou kniee en praat met Vader en luister ook.
Sterkte.

Veronica ·

My suster kwyn dag vir dag weg as gevolg van haar egskeiding. Dis vreeslik om te sien en te beleef watse gevolge ‘n egskeiding het.
Ons bid vir haar en ons glo dat deur genade God al die seer sal heelmaak…

johan ·

Ons kan weer net magteloos toekyk hoe n suster kwein onder die hande van haar nikswerd man…maar terselfdetyd kan ek my nie indink sonder my vrou nie, hoe maak mens daai besluit ..maar soms lyk dit na die beter opsie vir party mense…sterkte aan allmal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.