Gedagte vir die dag: Eienaarskap

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: carbonchurch.com

Lees Johannes 10:11-15

“Ek ken my skape, en my skape ken My …” (Johannes 10:14)

Vir dié wat dit nog nie weet nie, bevestig Jesus hier sy verhouding met sy volgelinge. En Hy doen dit in ’n taal wat hulle almal verstaan, onder meer omdat hulle almal Psalm 23 ken.

Net om seker te maak hulle weet waar hulle met Hom staan, vergelyk Hy die goeie herder se siening van sy skape met dié van ’n huurling. Daar is geen vergelyking nie, sê Hy. ’n Huurling voel niks vir die skape nie. Hy vat die pad as daar moeilikheid kom en los hulle net so. Dan vaar die wolwe onder die weerlose troppie in, verskeur en verwoes en verjaag.

Met Hom is dit nie so nie. Hy ken sy skape, Hy het hulle trouens so lief dat Hy vir hulle in die bres tree. Dat Hy selfs sy lewe vir hulle sal gee.

Hulle ken Hom, sê Hy. Hulle weet wat hulle aan Hom het. Hulle weet hulle is Syne.

Dit is die grondslag van die verhouding tussen die goeie herder en sy dikwels minder goeie skape. Ja, hulle dwaal soms weg, hulle verset hulle teen die herder, hulle kruip graag onder die draad deur – maar hulle weet altyd wie is die baas.

Hulle ken die stem wat roep, wat soek. Hulle skaam hulle omdat hulle Hom bekommerd gelaat het en omdat Hy soveel moeite moes doen om hulle te kom opspoor en uit te haal. Maar hulle laat hulle optel en terugdra na die groen weiveld en die water waar daar vrede is. Daar waar hul goeie herder die laaste woord het. Die goeie woord.

Ek ken u stem, Here, Herder. En ek dank U dat U my pleitende, roepende stem ook ken.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

L.M ·

Ek het ‘n ateïs probeer word want al die wreedheid in die wêreld het my oorweldig. Maar ek kan nie dink sonder Hom nie, kan nie wees sonder Hom nie, kan nie werk sonder Hom nie, kan nie eet sonder Hom nie, ksn nie slaap sonder Hom nie, kan nie lewe sonder Hom nie, het geen vrede sonder Hom nie, geen vreugde sonder Hom nie.

Dries ·

LM – Dis pragtige woorde van jou, mag Hy elke oomblik van jou lewe met jou wees

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.