Gedagte vir die dag: Eind goed, alles goed

sonsopkoms-man-wat-bid

Foto: http://living365withjesus.wordpress.com/

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? (Rom 8:28, 31)

Dit is nooit God se wil dat sy kinders swaar kry nie, maar soms laat God dit wel toe sodat ons nader aan Hom kan groei. Swaarkry is altyd die gevolg van die sondeval, maar kan deur God ten goede gebruik word in sy volmaakte plan met jou lewe. As jy aan God behoort, kan jy daarvan seker wees dat Hy aan jou kant is, en as dít waar is, is daar heeltemal niks wat werklik teen jou kan wees nie.

Wanneer dit ekstra sleg met jou gaan, soos wanneer jy jou werk verloor of ernstig siek word, bid jy mos meer as gewoonlik sodat die negatiewe omstandighede in jou lewe jou nader aan God laat beweeg. God is altyd volkome in beheer van jou lewe. “God is not the author of all events but the Master of all events,” lui ’n bekende Engelse gesegde.

Jou swaarkry van die oomblik is dus nie God se wil nie. God veroorsaak nie jou swaarkry nie. Hy beheer dit wel sodat dit op die ou end tot jou beswil kan meewerk. As jy op die oomblik met ’n krisis worstel, kan jy gerus die belofte in Psalm 138:8 vir jou neem: “Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.”

Vader, hoe wonderlik is u raadsplan! Dankie vir die wete dat U nie my swaarkry veroorsaak nie, maar dat U dit beheer en gebruik om my nader aan U te trek. Amen

Lees Romeine 8:29-34

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.