Gedagte vir die dag: Eindbestemming

sonsopkoms1.jpg

Foto: The Campus Companion

Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verby gegaan. (Op 21:4)

Elke Christen glo en weet dat wanneer ons lewe op aarde klaar is, die hemel vir ons wag. Maar presies hóé die hemel gaan lyk, weet ons nie. Daar is al boeke geskryf oor die belewenisse van mense wat gesterf het of in ’n koma was en wonderbaarlik weer begin leef het, en wat vertel van bonatuurlike belewenisse van die hemel. Maar tog weet ons nie verseker hoe dit gaan wees nie.

In Openbaring 21 beskryf Johannes sy gesig van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Daarvolgens weet ons wél dat die hemel ’n wonderlike ervaring vir God se kinders sal wees. ’n Plek waar Hy elke traan van ons oë sal afvee, waar die dinge wat vir ons swaar was op aarde, soos die dood, hartseer en pyn, glad nie meer sal bestaan nie. ’n Plek van ewigdurende vreugde en lig waar God self ons kandelaar  al wees. Miskien is dit tog moontlik om ’n boek oor die hemel te skryf!

Op die oomblik is Jesus besig om vir jóú plek in die hemel voor te berei. Christus se bloed is die sleutel tot die hemel, skryf Thomas Brooks. Net deur geloof in Hom kan jy doodseker wees dat die hemel eendag joune sal wees. Maak dus seker dat jy die sleutel het tot daardie hemelse eindbestemming.

Here Jesus, ek loof U dat U die hemel vir my moontlik gemaak het deur vir my sonde aan die kruis te sterf. Amen

Lees Openbaring 21:1-8

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanno Visagie ·

Volgens die Bybel daal die (nuwe) hemel op die (nuwe) aarde neer aan die einde van Christus se eersdaagse duisendjarige vrederyk. Vandaar die frase “hemel-op-aarde”!

louis matthys ackermann ·

Hou so aan met geestelike artikels uit die enigste ware bron van Waarheid nl. Die Bybel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.