Gedagte vir die dag: Die einde van die begin en begin van die einde

kruise_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. Dit is soos met ’n testament … (Hebreërs 9:15-16)

As iemand vandag vir jou ’n reusesom geld aanbied sal jy dadelik vra: “… en waarvoor is dit, of het jy ’n verskuilde agenda hoekom jy die klomp geld vir my gee?”

Ons leef immers in ’n tyd en samelewing waar ons alles moet verdien. Daarom is dit soms moeilik vir gelowiges om te aanvaar dat ons redding volkome deur Christus bewerkstellig is. Baie gelowiges wil self iets doen om hulle rein en aanvaarbaar voor God te kry, gewoonlik deur die onderhouding van allerhande reëls en regulasies. Sulke mensgemaakte reëls en wette reinig egter niemand van sonde nie, dit is maar net ’n uiterlike reiniging. Dit is net Jesus se kruisdood wat ons kan verlos. Dit is ook sy Gees wat ons in staat stel om in God se diens te leef en ons van die mag van die sonde te bevry.

Wanneer verkeerde besluite wat jy in die verlede gemaak het jou dus steeds teister en jy gedurig skuldig voel daaroor, onthou dat Jesus se dood reeds jou skuld betaal het en vra die Heilige Gees om jou van die sondelas te bevry.

“Waarom moes Jesus nou juis so ’n gruwelike dood sterf?” vra iemand my nou die dag, “kon God nie ons redding op ’n ander manier bewerkstellig het nie?” Vandag se teks verwys na God se testament en dit help ons om Jesus se dood beter te verstaan. In Grieks is die woord vir “verbond” en “testament” dieselfde. God se testament bepaal dat mense ’n nuwe toekoms as erfenis ontvang. ’n Testament tree eers in werking as die testateur dood is. Daarom moes Jesus sterf. Jesus is egter die waarborg en die eksekuteur terselfdertyd. Daarom het Hy uit die dood opgestaan om die bepalings van die testament in werking te stel.

Iemand het dit so beskryf: “Verlossing is so eenvoudig dat ons die gevaar loop om dit nie raak te sien nie, dit is so ingewikkeld dat ons dit nooit sal verstaan nie.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sam ·

Ons Vader kan nooit Sy eie wet oortree nie. Volgens die huwelikswette staan ‘n geskeide vrou steeds onder haar (eks)man se wet en mag sy eers weer na sy afsterwe in die huwelik verbind word.

Mey die afval van die Tienstammeryk in die Woord, skei Yahweh sy vrou. Na Sy dood aan die kruis het die Tien Stamme (en die Twee, wat nou weduweeskap opneem) hul met die Nuwe Testament verloof om met die wederkoms as bruid hul nuwe woning saam hul Bruidegom te betree. Lees gerus Op 21.

Dis wonderlik om die Woord te verstaan en die blye toekomsverwagting te hê. Wat egter belangrik is om te verstaan, is dat daar twaalf poorte met name bo-aan geskryf is, en nét die wie se name daar staan, sal ingaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.