Gedagte vir die dag: Eindelik, vreugde!

Lighuis_sonsopkoms_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

‘Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: ’n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.’ (Lukas 2:29–32)

Sommige van ons word oud voor ons ons kleinkinders kan sien. Die vreugde is onbeskryfbaar wanneer ons eindelik ’n kleinkind in ons arms kan neem en weet dis ons nageslag, ons hoop vir die toekoms.

Simeon het met hierdie hoop uitgesien na die koms van ’n baie spesiale Kindjie. Hy was getrou aan die Wet en het dae omgebid. God het sy gebede verhoor en hom deur die Gees na die tempel gelei, juis toe Jesus se ouers die reinigingsoffer moes bring. Aan sy woorde kan ons aflei dat sy oë nie meer so goed was nie en hy diep dankbaar was dat hy nog kon sien. Hy het die Jesuskind by Maria geneem, lank na Hom gestaar en God geprys omdat sy ou oë die Verlossing gesien het. Die Lig, dis wat Jesus vir hom was, Lig wat nie net sy hele lewe binnegedring het nie, maar wat hy geweet het vir die ganse wêreld bedoel was. Die seënwense wat hy oor die Kindjie uitgespreek het, het diep uit sy hart gekom.

Jesus sou baie mense tot insig en eerlikheid dwing. Maar Simeon kon nie anders as om te sê dat Maria sou seerkry nie. Sy sou Josef oorleef en haar Eersteling aan die kruishout sien sterf. Die ou man het die Kindjie met trane in sy oë vir Maria teruggegee. Juis toe het die bejaarde Anna, ’n weduwee en pro­fetes wat God gedien het, nadergekom en God ook vir die Kindjie gedank. Simeon en Anna het nie net ’n oulike babatjie gesien nie, maar die Verlosser van die mensdom. Vir hulle was dit die hoogtepunt van hul lang lewe.

Liewe Here Jesus, baie dankie dat ons nie hoef te wag tot ons oud en afgeleef is voor ons U kan sien nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.