Gedagte vir die dag: Eindig sterk

man_stap_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig;  ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.  (2 Timoteus 4:7-8)

Ek het iets baie interessant oor ’n ander aspek van innerlike krag gelees in ’n boek getiteld On the Highroad of Surrender deur Frances J. Roberts. Sy skryf dat ons innerlike krag moet hê om uiterlike seën reg te hanteer. Met ander woorde, ons bid: “Here, help my asseblief om een van die grootste predikers te wees wat nog ooit geleef het.” God gee jou jou hartsbegeerte, maar omdat jy nie genoeg tyd saam met Hom spandeer nie, het jy nie die innerlike krag om die sukses te hanteer nie. Die ergste wat kan gebeur, is om die wedloop amper te voltooi en skielik is die “brandstof” gedaan. Die einde is dus in sig, maar jy gooi handdoek in.

Paulus het dit verstaan en hy kon sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” Nadat hy sy hele lewe gegee het om God te dien en die Goeie Nuus van Jesus te verkondig, kon Paulus rus vind in God se genade. Hy het die balans tussen swakheid en krag verstaan. Jy is op jou sterkste wanneer jy bewus is van jou eie swakheid en afhanklikheid van God. Sy krag word in swakheid volbring.

Dink jy die probleem is dalk dat ons neig om te veel te steun op ons eie krag? Ons inherente swakhede kom na vore wanneer ons onder druk is. Dit beteken dat ons nie die innerlike krag het om die uiterlike seëninge in ons lewens te hanteer nie. Is dit dalk die rede hoekom so baie van God se diensknegte ineenstort en uitbrand? Paulus bemoedig ons vandag met hierdie woorde in Hebreërs 12:1: “Terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.”

My Vader, ek erken vandag dat ek van U afhanklik is. Ek weet dat ek niks van blywende waarde uit my eie kan doen nie. Vader, hou my aan u voete. Soos Paulus wil ek sterk eindig. Ek kan dit slegs doen as ek rus vind in u genade wat meer as genoeg is vir my. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.