Gedagte vir die dag: Ek bid vir jou

hande-in-gebed

Argieffoto.

Ek dank my God altyd wanneer ek in gebed aan jou dink, want ek hoor van jou liefde vir al God se mense en van jou getrouheid aan die Here Jesus Christus. (Filemon vers 4-5)   

Ons word dikwels deur tragedies of ander moeilike omstandighede as’t ware tot gebed gedryf. Ons vertel vir God van ons probleem en vra sy hulp – en dit is ook reg so. Paulus was beslis in groot moeilikheid toe hy hierdie brief aan Filemon geskryf het. Hy was in Rome in huisarres terwyl hy gewag het om verhoor te word deur die keiser. Hy het sekerlik genoeg gehad om vir homself oor te bid. Maar sy gebede was ook gefokus op die belange van ander. Toe die apostel dus vir Filemon skryf, herinner hy hom dat hy wat Paulus is gereeld vir hom bid, ja, dat hy God dank vir hom.

Het jy broers en susters in die geloof wat jou bemoedig wanneer jy swaarkry? Het jy al vir hulle gesê hoeveel jy hulle waardeer en dat jy vir hulle bid? Bid jy daagliks vir ander mense wat ook vir jou baie beteken? Sê jy elke dag vir God dankie vir jou eggenoot, jou kinders, jou ouers, jou broers en susters, jou kollegas, jou vriende, jou bure? Doen jy die moeite om hulle bekommernisse en behoeftes voor God se troon te lê?

Maak vir jou ’n weeklikse bidrooster van die mense in jou lewe sodat jy ’n spesifieke tyd kan hê wanneer jy by name vir hulle bid. Neem jou voor om vir hulle te sê hoeveel hulle vir jou beteken. Dan sal jy in alle eerlikheid vir hulle kan sê: “Ek bid vir jou!”

Begin vandag met ’n weeklikse bidlys. Ken bepaalde tye in die week toe aan mense na aan jou. Jy sal verstom wees oor die seën wat jy en hulle daaruit kry!

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.