‘Ek is bly ek is ʼn kind van die Here,’ sing vyfjarige ná bomaanval

Alvaro (links) en Trinity (regs) (Foto: Geopende Deure)

Ontmoet Alvaro (links) en Trinity (regs) – albei is vyf jaar oud.

Hulle is twee van die vier jong slagoffers wat beseer is in ʼn bomaanval in November 2016 op ʼn kerk in Samarinda, Indonesië. ʼn Terroris het ʼn Molotov-bom in die kerkterrein gegooi waar die kinders ná hulle Sondagskool-les gespeel het.

Alvaro en Trinity het ernstige beserings opgedoen, terwyl ʼn ander slagoffer, Intan (2), ʼn dag ná die aanval aan haar beserings beswyk het.

Nodeloos om te sê, het al die kinders wat daardie dag by die kerk was, baie trauma opgedoen. Volgens een van die Sondagskool-juffrouens raak van die kinders steeds angstig en kruip weg wanneer hulle harde klanke hoor wat hulle aan die bomaanval herinner.

Foto: Geopende Deure

Alvaro en Trinity moes albei oor die afgelope 17 maande intensiewe mediese behandeling vir hulle beserings ontvang. “Ek wens daar was ʼn ander manier om die keloïed (littekens) te verwyder,” sê Sarinah, Trinity se ma. “Ek kan dit nie verduur om haar te sien en hoor skree elke keer wanneer sy ingespuit moet word nie.” Trinity ontvang lokale verdowing voordat hulle haar inspuit – en volgens ʼn mediese suster kan selfs volwassenes nie hierdie tipe pyn verduur nie.

Aanvalle soos hierdie wat Christengemeenskappe teiken, is algemeen in lande waar Christenskap nie welkom is nie – en selfs kinders word deur ekstremistiese groepe geteiken.

Geopende Deure, ʼn internasionale Christenbediening wat vervolgde Christene ondersteun, stap sedert dié bomaanval ʼn nou pad saam met hierdie Christengesinne om hul van die nodige geestelike en finansiële ondersteuning te voorsien.

Toe Geopende Deure onlangs saam met Trinity se ma, Sarinah, gebid het vir vergifnis en volkome genesing, kon sy nie ophou huil nie. “Daai gebed het die kern van my hart geraak,” het sy gesnik. Trinity se ouers dank die Here vir die goeie vordering wat sy toon. “Dis alles net die Here se genade,” het haar pa gesê.

Hy het onlangs hierdie video afgeneem waar Trinity maak of sy kitaar speel en sing, “Ek is bly ek is ʼn kind van die Here.” Ten spyte van haar groot beproewinge, bly haar kinderlike vreugde aansteeklik.

Hierdie is maar een van talle gevalle waar Christengemeenskappe reg oor die wêreld geteiken word. Ons kan hierdie Christene ondersteun deur gebed. In die kragtige boekie, Gebed: Die Werklike Stryd, verduidelik en leer die skrywers ons oor die ware effektiwiteit van gebed in jou persoonlike lewe, asook hoe ek en jy vervolgde Christene, soos Alvaro en Trinity, kan versterk in hul geestelike wandel. Ons gebede kan ʼn reuse-impak maak in die lewens van vervolgde Christene.  Klik hier om jou gratis e-boek, Gebed: Die Werklike Stryd, af te laai.

Geopende Deure dien vandag miljoene vervolgde Christene in meer as 50 lande in samewerking met plaaslike kerke en vennote, deur middel van gebedsondersteuning, die voorsiening van Bybels, Christelike materiaal, dissipelskap, lewensbestaansopleiding – en op verskeie ander maniere.

Foto’s: © Geopende Deure Internasionaal

Facebook
Twitter
YouTube
Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.