Gedagte vir die dag: Ek is gretig om te gehoorsaam

paartjie_gesels_uitsig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe. (Psalm 119:32)

Die afgelope aantal dae het ons verskeie kere stilgestaan by die wet. Dit bly maar waar dat dit ’n woord is waarvan ons nie baie hou nie. Ons ervaar dit te neerdrukkend en beperkend. Maar ons het gehoor dat dit eintlik gaan oor die regte perspektief: die wet as ’n tronksel of as ’n omheining. Wanneer ’n mens die wet sien as iets wat jou van die lewe wil beroof en jou in ’n sel wil inperk, is dit natuurlik nie ’n plesier nie. Maar as jy die wet ontdek as ’n omheining, ’n beskerming teen dié wat jou lewe wil bedreig en verwoes, dan kry die saak tog dadelik ’n ander kleur. In plaas daarvan dat jy die wet vrees, word die wet vir jou ’n bondgenoot tot ’n gelukkige lewe.

En dan kan jy saam met die psalmdigter verklaar: Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam! Bedoel jy dit? Toets jy graag jou lewe elke dag aan die eise van God se wet? Al sou gehoorsaamheid aan die wet vir jou volgens algemene menslike standaarde verlies kan meebring? Gehoorsaamheid aan die Woord van die Here gaan nie altyd met materiële wins gepaard nie, of selfs nie sosiale erkenning of openbare applous nie. Dit kan jou eerder in onguns bring. Sou jy dan nog steeds gretig wees om God se gebooie te gehoorsaam?

Die psalmdigter meen dit is tog die moeite werd, want dit verryk sy lewe. Dink gerus oor die dinge wat regtig jou lewe verryk. Is God se wet nie dalk heel bo-aan die lys nie?

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.