Gedagte vir die dag: Ek is ’n nuwe mens

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Iemand wat ’n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly … Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie … (1 Johannes 3:9-10)

Sukkel jy ook om altyd goed te doen, net die beste van ander te dink, mense wat nie noodwendig soos jy dink of lyk lief te hê, vrede te bewaar, nie selfsugtig op te tree nie? – en so kan ek aangaan.

Goeie nuus: met God se hulp is dit vir ons moontlik om heilig te leef, want danksy Christus se offerdood kry ons ’n nuwe hart en verstand. Wanneer ons Jesus as ons enigste Verlosser aanneem stort God sy dwingende liefde in ons hart en vernuwe ons denke. Wanneer ons sy kinders word, verander Hy ons volkome. Hy lewe dan in ons en help ons om meer en meer soos Christus te word. Sjoe wat ’n voorreg!

As kinders van die lewende God staan ons nie langer onder die heerskappy van sonde nie, omdat Jesus juis gekom het om die werk van die duiwel tot niet te maak. Die heerskappy van die bose is met Christus se oorwinning aan die kruis gebreek en ons is saam met Hom oorwinnaars. Daarom, elkeen wat met Christus ’n innige geloofsverhouding het, ervaar daagliks die effek van die verlossing van sonde. Daarom sal so ’n persoon nie aanhou met sondig nie omdat Christus die heerskappy van sonde verbreek het.

Ja, as Christene sondig ons steeds, dit is so menslik om met sondige gewoontes te worstel wat moeilik is om af te skud en te oorwin. As ons egter in afhanklikheid van God leef, skenk God ons die begeerte om te wil leef soos Hy wil hê ons moet leef – hierdie gawe is nie deur ons toedoen nie, maar deur God se hulp.

As ons oorwinning oor die sonde wil behaal, moet ons elke dag vir die krag van die Heilige Gees bid, ons moet sondige begeertes tot elke prys vermy en besef dat ons deel van die hele liggaam van Christus is en ook die res van liggaam se hulp nodig het.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.