Gedagte vir die dag: Ek kon nie glo hy doen dit nie

skape_lammers_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. (Lukas 15:20)

Ons seun was en is altyd ’n aangename gesinslid. Ek is trots op wie hy is. Soos enigiemand het hy ook sy foute. Die belangrikste is: Hy is regtig lief vir die Here.

En toe doen hy, goeie motiewe ten spyt, impulsief twee irrasionele dinge wat teenstrydig is met sy aard. Ek kon nie glo hy doen dit nie. My eerste instink was om teen hom uit te vaar, maar iets het my gewaarsku (dankie, Here!) ek moet “back off”. Ons as ouers was salig onbewus daarvan dat ons introvert seun deur ’n groot innerlike krisis gegaan het. Dit was ’n spanningsvolle tydperk met ’n warboel deurmekaar emosies wat hy nie kon verwerk of verwoord nie. Hy was ver van die huis alleen in sy universiteit se koshuiskamer.

Vir my as pa was dit ook ’n groot toets. God het my gehelp, want die kalmte was nie myne nie. Sonder antwoorde het ek op ’n bus geklim en 1 000 km deurnag gery om by hom aan te sluit, waar ons omgedraai het en weer terug huis toe is met sy kar. 12 belangrike ure saam met hom in ’n klein kajuit.

Ek het net geweet ek moes sag werk en hom verseker van my liefde. Dit het hom sy hart laat oopmaak. Beensnydende gesprekke het ons by tye laat saamhuil. Ek moes ook hoor hoe ek hom in belangrike opsigte gefaal het. Ek?! Die perfekte pa hom faal?! Ek kon nie glo hy sê dit nie!

Alles is weer terug na normaal. Mag dit nie weer nodig wees nie, maar mag ek my kind weer en weer tegemoethardloop as dit moet, want hy is my kosbare kind. Liefde maak van ’n mens ’n kragtige en onvoorwaardelike “tegemoethardloper”.

Vader, U is liefde. Dit definieer U. Ek is geweldig dankbaar (en skaam) dat U my al soveel male moes tegemoethardloop. Al kon U seker nie glo ek doen dit al weer nie. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Hoe kan ek die skape en lammers op hierdie foto aflaai ek like dit en wil baie graag foto hê. Dis te mooi!

Cyril Blackburn ·

Dagsê Hennie
Dankie vir jou kommentaar. Ons stuur dit graag vir jou aan!
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Connie ·

Ons moet maar almal die les leer met ons kinders. Partykeer het mens as ouer geen geduld meer met hul. Bly maar net lief vir hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.