Gedagte vir die dag: Ek sal rus gee

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal nuwe krag kry. (Matteus 11:28, 29)

Ek wil graag so ʼn paar opmerkings maak oor wie en wat die Seun van God was en steeds is. In Matteus 11:28, 29 leer ken ons die God van medelye. Deur sy hele bediening op aarde het Jesus opregte medelye met mense in nood gehad. Hy het ons telkens laat verstaan dat ons God nie net weet van ons nie, maar ons in ons swaarkry wil bystaan. Onthou dat Jesus die volmaakte beeld van God was; Hy was immers God by ons.

Watter gerusstellende wete: Ons kan met ons laste na God gaan en Hy beloof om ons rus te gee (om ons lewens te verkwik). Hoe hard en skril is die hulpgeroep vandag nie oor die hele wêreld heen nie. God se kinders kry swaar. Christene word ter wille van hulle geloof doodgemaak. Ons is onrustig. En Jesus nooi ons om by Hom te kom rus vind. Ja, Hy het wel ʼn juk wat Hy vir ons sal oplê, maar dis ʼn sagte juk, dis die juk van gehoorsaamheid aan God, van ʼn lewe volgens sy wil. Dit is die juk wat rus en vrede gee.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.