Gedagte vir die dag: Ek slaap goed, dankie!

sonsopkoms_wolke_nuwe-dag_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 3

As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. (Psalm 3:6)

Die opskrif van hierdie psalm is hartverskeurend: “ ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het.”

Ai. Ons ken die verhaal – dit word in 2 Samuel 13–19 vertel. Maar dit blyk gou dat Dawid se probleme met Absalom nie die enigstes was wat hom beswaard gehad het nie. Die koning begin trouens sy gebed só: “Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my” (v. 2).

Maar dit, hierdie aanvangswoorde, is uiteindelik ook die laaste negatiwiteit wat ons hoor. Van hier af volg daar bloot ’n verslag, vol dankbaarheid en vertroue, oor die Here se beskerming. En ’n blye verwagting, nee, ’n sekerheid, dat Hy sy trou weer sal bewys. Ja-nee, sê Dawid, “(h)ulp kom net van die Here af ” (v. 9). Daarom slaap hy goed, dankie. Soggens word hy wakker, terdeë bewus van God se beskerming deur die nag.

En ons sal weet: Daar is waarskynlik geen beter barometer vir vertroue as ons slaappatroon nie. Iemand wat volkome op God vertrou, ken geen bekommerde rondrollery nie, geen malende ge- dagtes nie. Nie ’n eerste insluimer knap voor die wekker lui nie. Slaap is vir hulle ’n wondersoete ding, ’n gawe van die goeie God.

Onrealisties? ’n Dagdroom? Probeer dan ’n slag sonder al jou bagasie in die bed klim. Los dit buite.

Nog beter: Haal dit gereeld van jou rug af en gee dit vir die Here aan. Sodat jy, wanneer dit bed-toe-gaan-tyd word, onbesorg kan gaan lê en dadelik aan die slaap raak (vgl. Ps 4:9).

U is ook die Koning van Droomland, Here. Hoe goed is U nie vir my nie!

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae