Gedagte vir die dag: Ek twyfel soms

see_rotse_hemel_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk … Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. (Romeine 4:20-22)

Duisende gelowiges getuig dat hulle lewe die dag verander het toe hulle uit God se Woord begin bid en met vertroue in gebed vasgehou het aan die beloftes wat God in die Bybel vir ons gee. Daar is heelwat beloftes in die Bybel wat God vir sy kinders gee. Jy het ook daardie beloftes van God ontvang, byvoorbeeld: Hy gee sy Gees aan dié wat Hom daarvoor vra, Hy bewaar sy kinders, jy sal enduit volhard, ensovoorts. Hou vas aan hierdie beloftes en pleit dit daagliks van God. Bid Woord!

Natuurlik gaan daar dae wees wanneer ons in twyfel verval en wonder waarom God nie dinge laat gebeur soos ons gehoop het nie. Skep moed: selfs Abraham, wat die vader van alle gelowiges genoem word, se geloof het soms wipplank gery. Abraham het egter nie toegelaat dat die harde werklikhede van sy moeilike omstandighede hom permanent in vertwyfeling laat kom het nie. Hoewel hy dae van twyfel beleef en baie foute in sy lewe gemaak het, het hy nooit sy geloof verloor nie. Hy het bly glo dat God dit wat Hy belowe het, sal waar maak.

Soveel Christene het in die verlede struikelblokke oorkom deur God se genade en die geloof wat Hy vir hulle geskenk het. Ek en jy kan vandag met God se hulp dieselfde doen. Moet nooit, al twyfel jy soms, alle geloof verloor nie, want God is die Almagtige, en Hy doen wat Hy beloof het. Onthou, geloof is die moed om dit verder te waag as wat jy kan sien.

IL De Villiers het gesê: “Mense wat bewyse vra, kry gewoonlik nooit genoeg nie. God weet dit! Daarom vra Hy ons om in die geloof te wandel. Al die werklike groot dinge wat die lewe wonderlik maak – God, die liefde, skoonheid – kan nie bewys word nie. Dit is ’n kwessie van geloof.”

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

amanda ·

Baie baie dankie vir hierie wonderlike gedeelte vanoggend… dis soo waar en ek is soooo gebless dat ons Hemelse Vader my die krag en leiding te gee om te glo en vertrou!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.