Gedagte vir die dag:  Ek voel weer veilig             

 trompet_sonsopkoms_pixabay_stiltetyd (2).jpg

Foto: pixabay.com

Ek voel weer veilig, o God! Ek voel weer veilig! Ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing. Ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! (Psalm 57:8-9)

Hierdie psalm verwys na die keer toe Dawid vir Saul weggekruip het. Dit gebeur toe so dat hy vir Saul kon konfronteer met sy onskuld, waarop dié verskoning gevra en onttrek het. Wat ’n verligting! Die saak tussen hom en Saul is bygelê en sy verhouding met God het ook behoue gebly, want hy het nie die koning, God se gesalfde, leed aangedoen nie. Hy voel soos iemand wat ’n toets geslaag het – hy jubel en juig.

Hy besluit sommer om vroeg op te staan en met sy lier die dagbreek “wakker te maak”, soos hy dit stel. Ons sien net weer hoe intens en persoonlik Dawid sy hele lewe saam met God geleef het. Die Here is in sy hele dag: in sy mislukkings en oorwinnings, in sy emosies, gedagtes, woorde en dade. Alles draai vir hom om God. Hy is opgewonde oor die Here. Ai, en ons weer gaan dikwels maar sonder God aan, behalwe om in krisistye na Hom toe te draai. Ons kan beslis beter doen.

Vader, help my hiermee. Ek het U lief en ek wil U ook prakties in my lewe beleef. Amen.

Bron: Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anoniem ·

Is dit maar ook hoe ons vandag is nie. Ons kruip weg vir God soos Adam en Eva want ons voel al so besoedeld van die sonde.
Vader ek bid vanoggend tot U maak my en ook vir elke mens vandag wat wegkruip vir U los van die bindinge in ons lewens. Here dat ons net op U sal vetrou en net aan U eer sal gee. Laat ons oe net op U gevestig sal wees. Kom o Here Jesus Seun van God, kom was ons skoon met U kosbare bloed. Reinig ons Here. Dankie Jesus Laat U wil geskied . Amen

Lena Jonk ·

Ja ons moet Jesus ken in ons hartseer, ons bekommernisse maar ook in ons blydskap en ontspannings, Hy moet ons middelpunt wees van alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.