ToekomsVenster: Ek word geroep


Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Eksodus 3:4 Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” en hy antwoord: “Hier is ek.”

Geloof roep jou! Hoe jy daarop reageer, verskil. Geloof kan uitkoms bied, vertroosting gee of dit kan jou omkrap en ontstel. Ek wil net fokus op die laaste twee emosies, want die ander emosies is lekker en kan jou opgewonde maak. Hoekom krap geloof jou soms om?

Eers krap dit jou om, want jy het dalk nie die Here se stem so duidelik gehoor nie. Vir sommiges is die dag en datum waarop God hulle roep duidelik. Vir ander is dit moeiliker; hulle is nie seker wanneer hulle sekerheid ontvang het nie. Albei is natuurlik bevestiging van die unieke wyse waarop God verskillend werk met verskillende mense.

Tweedens kan dit jou ontstel want jy wil nie op God se duidelike roepstem antwoord nie. Jy wil niks met God te doen hê nie, maar jy weet Hy het jou geroep. Jy is bang om te antwoord, want jy weet nie wat dit alles beteken as jy antwoord nie.

Nou het jy ja geantwoord. Wat vra geloof nou? Vra dit dat ek alles sal los en na vreemde lande en plekke moet gaan om daar te gaan sendingwerk doen? Of vra dit dat ek nou anders moet dink en doen in my verhoudingslewe, my geld en werk?

Gebed:

Here ek wil weer ja sê op my roeping. Ek weet U roep my. Leer en wys my nou U regte weë sodat ek ’n lig kan wees wat skyn. Amen

Leefwyse:

Maak vandag tyd om stil te word. Jy kan op jou gunsteling stoel of buite onder ’n boom gaan sit, daar waar niemand jou gaan pla nie. As jy lief is vir musiek kan jy na musiek luister. Konsentreer op jou asemhaling: neem lekker diep teue. Laat jou gedagtes oor jou lewe vloei. Hoe het God jou geroep? Het Hy jou al ’n paar keer geroep, maar jy het nie daarop geantwoord nie? Sit dit alles voor die voete van die Here.

Iets om vandag oor na te dink:

Hierdie gedeelte beklemtoon jou roeping. Lees die roepingsverhale van ander Bybelfigure. Gesels met jou vriende oor hulle roeping. Dink jy mense word verskillend geroep? Wat dink jy beteken jou roeping?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.