Gedagte vir die dag: Ekstase   

mense-gesels_mistig_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. (Handelinge 2:44)

“Dit was die eerste, ekstatiese dae van idealisme, “onderlinge verbondenheid, gemeenskaplike maaltye en gebede” (v. 42). Daar was die bruising van nuwe opwinding oor die handelinge van God met sy mense. Eensgesindheid en opoffering het duiselingwekkende hoog tes bereik. Gelowiges het selfs hul besittings met mekaar gedeel, hul grond verkoop en uitgedeel “en elke dag in die tempel” aanbid (v. 46). Heerlike tye van hoë emosie. En die Here gun hulle hul ekstase, soos vir ons elkeen, al weet Hy dat ons nie op die bergtoppe kan bly ronddans nie.

Twiste sou, om realisties te wees, heel gou volg. Die gesamentlike besit van eiendom was ’n goed bedoelde maar mislukte eksperiment, vroeg reeds vir mense ’n strik. Ananias en Saffira het beweer dat hulle “alles” vir die gemeente gegee het, ’n leuen wat hulle hul lewe sou kos. Petrus sê Ananias “kon met die geld gemaak het wat hy wou” (5:4). Later stuur Paulus selfs ’n slaaf, eiendom van ’n medegelowige Filemon, aan hom terug. Christenskap hef nie eiendomsreg op nie.

Deur die eeue lewer gesamentlike besit probleme op; al het Karl Marx, ongelowig soos hy was, hierdie eerste Christelike ywer as norm aangehaal. Wat hy en sy Kommunistiese volgelinge egter nie wou erken nie, was dat idealistiese “alles deel” dikwels daartoe lei dat iemand (of ’n kliek of regering of nomenklatura) uiteindelik vir almal die beurs hou en dikwels eerste vir hulself uit die geldlaai sorg.

Die eerste Christene wou mekaar werklik help. Maar Paulus stel later duidelik die reël aan die gemeentelede in Tessalonika om hulle met hul “eie sake besig te hou en self in hulle lewensonderhoud te voorsien” (1 Tess. 4:11). Hy self het met sy eie hande vir sy kos gesorg, en niemand iets gevra nie, maar ’n geskenk met grasie aanvaar. Vir Christene geld eerder die reël: werk so hard as jy kan, spaar soveel jy kan en deel mee oral waar jy kan. En God sal jou seën.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Willem

So mooi gestel. Kom ons wees deelsaam