Elia en Elisa – ‘n vriend wat raadgee en lei

Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom. 1 Konings 19:19

Miskien onthou jy hierdie verhaal. Net na die grootste oomblik in Elia se lewe toe hy die priesters van Baäl op die berg Karmel verslaan het, begin koningin Isebel om die profete van die Here dood te maak. Sy dreig selfs om Elia dood te maak.

Elia vlug vir sy lewe. Hy eet nie. Hy drink nie. Hy slaap baie. Hy wens hy was dood. En die ergste van alles is dat hy volkome alleen voel. Die Here gee vir hom brood en water, en Hy stuur ‘n engel om hom te bemoedig.

“Word wakker! ” sê die engel. Elia het opgestaan, geëet en 40 dae en nagte geloop tot by die berg Horeb. Daar het die Here vir hom gesê dat hy nie alleen is nie. Daar is nog baie wat Hom liefhet en nie almal is boos nie. Alles is nie verlore nie. Die Here het hom ook na Elisa gelei en toe Elia by hom kom, het hy sy mantel op Elisa gegooi. Elisa het alles laat staan en Elia gevolg.

En so het ‘n legendariese vriendskap begin – uniek onder die Ou-Testamentiese profete. Die Here het toegelaat dat Elisa uiteindelik vir Elia opgevolg het. Maar die Here het veel meer as dit gedoen. Die Here het nie net vir Elia ‘n opvolger gegee nie, maar ook ‘n ware vriend. Elisa het Elia liefgehad en het genoeg begrip vir hom gehad om hom te kon help en bemoedig.

Soms is jou kosbaarste vriendskap met iemand buite jou ouderdomsgroep. ‘n Vriendskap met iemand baie ouer of jonger as jy kan jou uitkyk op die lewe verbreed. Ouer vriende is dikwels ‘n mentor vir ons, soos Elia vir Elisa was. Tyd wat ons aan ‘n jonger vriend bestee, gee ons ‘n doel vir vandag en hoop vir môre.

Gebed: Hemelse Vader, ons kan U nooit genoeg bedank vir die vriende wat U aan ons gee nie, veral vir diegene wat ons help om te groei, en wat genoeg vir ons omgee om ons in liefde uit te daag en op ons foute te wys. Maak ons sensitief vir mekaar, sodat ons mekaar kan raadgee en lei. Amen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.