Gedagte vir die dag: Elia onder die besembos – Laat my sterf

Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe. (1 Konings 19:4)

Watter antiklimaks! Een oomblik die geloofsheld op Karmel. Die volgende oomblik onder die besembos, moedeloos, gereed om tou op te gooi. Dit alles oor één vrou, Isebel, en haar dreigemente. Wie van ons kan hom verkwalik? Wie van ons ken nie die antiklimaks nie? Ons was seker van ons geloof. Die volgende oomblik was ons diep in die put van twyfel, gereed om kennis te gee. Soos met Elia was dit partykeer net een mens, een onbillike opmerking, een slegte ervaring wat ons ook laat voel het: “Nou is dit genoeg. Neem my lewe, Here.”

Gelukkig het die Here Elia se bedankingsbrief opgeskeur. Die engel het hom wakkergeskud: “Eet!” By sy kop was daar roosterkoek en ’n kruik water. Weer ’n keer hoor hy: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te veel word.” Eet en word versterk! As jy wonder oor die pad vorentoe, kyk na die tekens van God se liefde en versorging in jou hande. En, het ons gelees, deur die krag van die kos kon hy die lang reis aanpak na Horeb, na die berg van God. Daar, soos met Moses, wag God op Elia. Daar, in die sagte suising van die wind, het die Here hom ontmoet. Daar het die Here hom gereedgemaak vir die pad wat voorlê.

So maak die Here ook met ons. Waar ons onder ons besembosse lê, kry ons ook voedsel om ons te versterk. Ons mag Sondag in die kerk die brood neem en die wyn drink wat Jesus vir ons geskink het. Sy liggaam wat vir ons gebreek is, sy bloed wat vir ons gevloei het. Ons wankelende geloof word versterk, ons kry krag om voort te gaan op ons geloofspad tot by Horeb, ons berg van God.”

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat ek mag bid vir elkeen wat onder die besembos sit en ingesuig is deur n moeras van depressie , versterk en rig hulle op in Jesus Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.