Gedagte vir die dag: Elia onder ’n bos

 bos_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ’n engel het hom aangeraak en gesê: “Staan op en eet!” Hy kyk op en dáár sien hy ’n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ’n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. (1 Konings 19:5, 6)

Elia was in die sentrum van een van die skouspelagtigste wonders wat ooit gebeur het. Op Karmelberg het God ’n deurdrenkte offerdier met vuur uit die hemel verteer, terwyl die Baälprofete met al hulle geraas niks kon regkry nie. Dit was ’n geweldige terugslag vir die Baälprofete. Die Here het geseëvier en Elia was die held van die dag.

Dis mos geen verlies nie … ? Nee, dit was ’n klinkklare oorwinning. Maar dit was nog nie die einde van die storie nie.

Toe Elia hoor dat Isebel gesweer het om hom te laat doodmaak, het sy moed hom begewe. Hy het bang geword en gevlug en as ’n moedelose en vreesbevange swakkeling onder ’n besembos tot rus gekom. Verlies aan moed en durf en selfvertroue. Verlies aan Godsvertroue.

Die Here stuur ’n engel om aan hierdie lewensmoeë profeet weer moed en krag te gee. Daar breek vir Elia ’n nuwe fase van volkome vertroue op die Here aan. Moenie dat omstandighede jou onder ’n bos injaag nie. Hou jou oë op jou almagtige God gefokus!

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvon ·

Here dankie dat U ook vandag vir ons versterking en hoop gee temidde van chaos . Ons eer U

Dot ·

Dankie liewe Here dat U ons nooit verlaat nie want U weet sonder U kan ons in tye van bekommernis en nood so maklik ineen stort. U is ons Verlosser en Saligmaker en U ken al ons nood en swakheid. Help ons deur U liefde, Vrede en Genade liewe Here, in die mooiste naam Jesus!

Gerhard Yssel ·

Ons as mense doen presies wat Elia gedoen het,die Here laat n wonderwerk plaas vind deur vuur uit die hemel te stuur om brandoffer te laat brand,dan vertrou hy nie op die Here nie toe Esebel se sy gaan hom dood maak,hy vlug.Ons doen baie keer dieselfde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.