Gedagte vir die dag: Elia op Karmelberg – Die Here is God!

 straat-padtekens-stiltetyd-pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm. (1 Konings 18:21)   

Elia was ’n nederige bywoner toe die Here hom gaan haal het om die grootste van al die profete te word. Dit was ’n donker tyd in die geskiedenis. Agab het in Israel regeer. Sy vrou Isebel was ’n priesteres van Baäl en die godin Asjera. Agab het vir Baäl, die god van vrugbaarheid, ’n tempel in Samaria gebou. As jy ’n goeie oes wou hê én ook kinders om jou tafel, moes jy na Baäl toe gaan met jou offer.

Daar staan Elia op Karmelberg, één profeet van die Here teenoor 450 Baälpriesters en 400 Asjera-priesteresse: “Wie kies julle, die Here God of vir Baäl?” Wat die dag gebeur het, is een van die groot verhale van die Bybel. Die priesters en priesteresse het gebid en gedans, gesmeek dat Baäl, die god wat donder en weerlig beheer, sy vuur moes stuur. Maar niks het gebeur nie. Roep harder, het Elia gespot. Baäl is dalk diep ingedagte. Dalk reis hy, dalkies slaap hy!

Toe was dit Elia se beurt. Die altaar is gebou. Strome water is daar oor gegiet. Die offer is daarop geplaas. “Here, God van Abraham, Isak en Israel,” het Elia gebid, “laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel. Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U God is wat hulle harte weer tot U bekeer.” En toe kom die vuur! Op hul knieë het die hele volk uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”

Die Here roep ons soms op onverwagte oomblikke om ook op ons Karmelberg te gaan staan, om voor die wêreld te bely dat ons in Hom, die enigste ware God, glo.

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yvonne ·

Here daar is niemand anders as U nie….God Alleen tot in alle ewigheid

Elbiena ·

Dankie Vader dat U ons nooit verlaat . Gee ons sterkte en versterk ons geloof in U sodat ons berge kan versit. Amen

FM ·

Sóveel wonders is in die Woord opgeteken om ons geloof te versterk.

Toe ons Here vir Elia na die weduwee stuur wat kos bitter nodig het, lyk dit vir ons gewone mens eienaardig maar dit is hoe God bo ons denke wonders laat gebeur. Juis die hopelose situasie keer Hy om in ‘n wonderwerk. Die meel en olie raak nie op nie.

Here maak ons oë oop dat ons U wonders ervaar.

U IS GOD.

Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.