Lees: 1 Konings 19:3-18
Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Hy het ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” (1 Konings 19:3-4)
Die profeet Elia, wat so onverskrokke ’n hele leër Baälprofete gekonfronteer het, se moed begewe hom toe hy ’n doodsdreigement van koningin Isebel ontvang. Hy vergeet skoon hoe God hom by Karmel gehelp het en vlug die woestyn in. Daar gaan sit hy onder ’n besembos en wens om dood te gaan. “Nou is dit genoeg, Here!” kla hy by God. God versterk die moedelose Elia met water en roosterkoeke. Hierna kry hy genoeg krag om vir 40 dae lank te loop tot by Horeb. Daar skuil hy in ’n grot en kla by die Here dat Israel hulle verbond met Hom verbreek het en die profete doodgemaak het – dis net hy wat oorgebly het. Maar God praat met Elia in ’n sagte windfluistering en gee hom die opdrag om Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel te salf. Hy moet ook vir Elisa salf om hom as profeet op te volg.
Juis wanneer Elia sielsmoedeloos meen dat sy enigste opsie die dood is, ontdek hy dat God nog belangrike take het wat hy moet verrig. As jy op die oomblik moedeloos is en jammer voel vir jouself, luister goed of jy nie God se stem met jou in die stilte hoor praat nie. Dalk het Hy nog ’n spesiale opdrag vir jou …
Here, vandag voel ek soos Elia onder die besembos – moedeloos en jammer vir myself! Vergewe my, asseblief. Ek wil nou baie stil word, sodat ek u stem met my kan hoor praat. Amen.
Inerdaad voel n mens soms soos Elia, hoe wonderlik is dit om te voel hoe God mens krag gee!
Ek het vanoggend opgestaan en besluit genoeg is genoeg Here, ek gaan eerder dood as om aan te gaan, in my innerlike het ek gesug toe ek die datum sien, ‘n datum wat vir my niks beteken maar seker vir een of twee wat omgee sal beteken dat hulle my die laaste keer oppad toe lewendig gesien het vandag! Soos Elia kan ek nie meer nie, ek hoop ek hoor U fluister Here, ek probeer stilwees, maar al my gedagtes skreeu op my!
Dagsê Nix
Ek is baie jammer dat jy vandag só voel. Kan jy dalk asseblief vir ons ‘n telefoonnommer na my stuur by [email protected]? Ons sal jou graag in kontak wil bring met iemand wat hieroor met jou kan gesels.
As jy nie kans sien om met ons te praat nie, is jy ook welkom om SADAG te kontak. Dit is die “South Depression and Anxiety Group”. Hulle is ‘n ondersteuningsgroep wat jou sal kan bystaan. Kontak hulle gerus by 0800 567 567 of stuur ‘n SMS aan 31393.
Baie sterkte
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Ai Nix! Wens so uit my hart ek kon jou n drukkie gee! ;-( x