Gedagte vir die dag: Elke dag genoeg…

voetpad-brug-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die engel het weer gekom, aan hom geskud en gesê: Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees.” (1 Konings 19:7)

Ek dink ons almal het al so ’n Elia-oomblik gehad waar dinge net vir ons te veel raak. Waar dit voel asof ons net onder ’n besembos kan gaan lê. Waar dit voel dat ons net vir alles moeg is. Waar dit voel ons wil opgee.

Selfs in daardie oomblikke is die Here se genade vir ons genoeg. Is die Heilige Gees by ons. Belowe Hy hy sal ons nooit verlaat nie. Is dit nie net wonderlik dat toe Jesus sy dissipels leer hoe hulle behoort te bid, een van die heel eerste dinge wat Hy hulle leer, is om die Vader te vra om aan hulle hul daaglikse brood te gee nie. Nie hul jaarlikse, maandelikse of weeklikse brood nie, maar hul daaglikse brood.

Net so sien ons ook in 1 Konings 19 hoe die engel van die Here Elia twee maal wakker maak en aan hom ’n warm roosterkoek en ’n kruik water gee. Albei simbolies van die Here. Jesus die brood van die ewige lewe. Hierdie roosterbrood was vars en warm. Nie gister se brood nie, maar wat hy nodig gehad het vir vandag. Dit is waarom die Here wil hê dat ons elke dag opnuut saam met Hom moet begin, want Hy weet alreeds wat ons vandag gaan nodig hê.

So ook is die water simbolies van Jesus, die Lewende Water. Wie daarvan drink, sal nooit as te nimmer weer dors word nie. Meer nog, Jesus belowe dat hierdie water in dié wat daarvan drink, sal wees soos ’n fontein wat opspring en opborrel. Hoe goed en getrou is die Here net nie! Sonder weerga en sonder gelyke.

Daarom laat ons Jesus elke dag soek. Nie net dat ons daardeur versterk kan word nie, maar dat ons ander daardeur kan versterk. Mag sy Woord vandag jou siel voed en opborrel in jou. Mag sy Woord vanuit jou oorspoel in die lewens van die met wie jy in aanraking kom.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here dat U my Gees en my liggaam versorg…..uit U hand kom net wat goed is…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.