Gedagte vir die dag: Elke dag kan jou laaste wees!

lig_boekevat_bos…stemming.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Psalm 118:24-29

Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. (Psalm 118:24)

Gedurende die afgelope drie jaar het ons ’n hele paar van ons beste vriende wat oënskynlik blakend gesond was, verloor en is my man boonop met leukemie gediagnoseer. Hierdie gebeure het my net weer laat besef hoe broos die mens is; hoe kortstondig ons aardse lewens is. Miskien gaan jy ook in die jaar wat voorlê iemand verloor wat vir jou baie kosbaar is. Leef dus elke dag van die nuwe jaar wat voor jou lê asof elke dag jou laaste dag gaan wees. Asof jy net vandag oor het.

Toe ons jare gelede vir die eerste keer oorsee getoer het, het ek teruggekom en met nuwe oë na ons eie land gekyk en die skoonheid daarvan opnuut ontdek. My kleinkinders, kinders en vriende was ook vir my kosbaarder nadat ek my ma verloor het. Ek het dus vanjaar besluit om meer te gee, meer te waardeer, om tevrede te wees met wat ek het, my liefde vir my dierbares te verwoord, om my elke dag in die skoonheid rondom my te verlustig en elkeen van my sintuie optimaal te gebruik. Om meer te bid vir God se vrede in my lewe en my land, om minder krities te wees, om positief te bly, al maak die nuusberigte dit feitlik onmoontlik.

Indien jy dieselfde sou doen, gaan die nuwe jaar sekerlik vir jou baie meer vreugde bring. Maak vandág die beste dag van jou lewe, omdat jy nie weet wat more en oormôre vir jou gaan inhou nie.

Here, dankie vir vandag wat U gemaak het. Leer my hoe om elke dag in die nuwe jaar te leef asof ek nog net een dag oor het. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Zwart ·

Hierdie spesifieke onderwerp le my na aan die hart. Ons is op aarde geplaas vir een rede en een rede alleen en dit is om die God wat ons gemaak het te verherrlik. Ons doen dit nie naastenby genoeg nie. Dit is my ewigdurende begeerte om op hierdie terrein te verbeter en ek streef daarna daagliks . Die stryd is nie eensydig nie want Satan is maar net so besig. Dis net wonderlik hoe, met volgehoue pogings, dit makliker word en die Heilige Gees mens totaal en al oorneem. Met dank aan God vir krag, genade en insig om dit te kan volhou.

neelsie ·

Johan Z ,
Amen op jou gedagte.
Vetrou God in en met alles!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.