Gedagte vir die dag: Elke dag se sorge

Vrou_strand_stiltetyd_lees-Bybel_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag. (Psalm 5:4)

Die Here weet wat ons nodig het nog voor ons vra. Nogtans wil Hy met ons in gesprek tree. Hy wil hê ons moet Hom vertel wat in die dag vir ons voorlê, waarom ons opgewonde is, waarvoor ons bang is en wat ons nog nodig het. Hy vra dat ons Hom ken in alles wat ons doen en beplan.

Jy kan nie die dag op eie stoom aandurf nie, jy kan nie hoop om te slaag as jy nie jou program vir God voorgelê het nie. Maak tyd om in stilte tot God te nader, maak tyd om op Hom te wag. Leer by Jesus wat gereeld ook vroeg in die môre ’n stil plek opgesoek het om met sy Vader in die hemel te praat. ‘Teen dagbreek,’ staan daar in Lukas 4:42, ‘het Hy uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek.’

Jesus het die noodsaaklikheid van alleentyd met God besef. Daarom het Hy eenkant toe gegaan om saam met God voor te berei vir die uitdagings van die volgende dag. In Johannes 8:1–2 lees ons dat Jesus nie huis toe gegaan het nie, maar die nag op die Olyfberg deurgebring het: ‘Hierna is hulle elkeen na sy huis toe, maar Jesus het na die Olyfberg gegaan. Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer.’

As Jesus dit nodig vind om sy dagtaak in God se teenwoordigheid voor te berei, hoeveel te meer ek en jy?
Here, hierdie dag behoort aan U. Ek gee alles wat ek vandag moet doen in u hande, ook elke bekommernis en elke stukkie blydskap.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Azar ·

Dankbaar dat ek 23 jaar gelede die “gewoonte” aangeleer het om my dag aan SY voete te begin.
Al manier hoe ek die daaglikse rot-resies kan hanteer – met vrede en vreugde.
Sela

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.