Die Here gee my nuwe krag. Hy lei my op die pad van geregtigheid tot eer van sy Naam. (Psalm 23:3)
Ek verlig nie altyd die pad voor jou op so ’n manier dat jy seker oor die toekoms voel nie. Weet dat wanneer Ek kies om jou een tree op ’n slag in die donkerte te laat gee, Ek dit met ’n spesifieke doel doen. Dikwels wil Ek jou met sorg in elke tree lei terwyl Ek jou vertroue in My bou en jou leer om al meer op My te steun.
Indien jy vorentoe wil beweeg in my doel vir jou lewe, kan jy nie verwag om al die antwoorde te hê nie. Ek wil hê jy moet leer om op My te vertrou. Dit is juis die druk van sommige van die uitdagende paaie wat jy moet kies wat jou nader aan My bring. Ek wil nie hê jy moet ontsteld of vol vrees wees nie. Weet dat jy presies is waar Ek jou wil hê en EK IS by jou om jou te red. Die pad wat Ek vir jou beplan, lei altyd na die oorwinning – dalk nie op die manier wat jy wil hê of op die tyd wat jy sou verkies nie, maar my wil is volmaak en jy moet daarop vertrou. Ek wil nie hê jou geloof moet in enigiets of enigiemand anders as My rus nie. Onderwerp jou daarom volkome aan My. Weet dat Ek jou die krag sal gee wat jy nodig het namate jy elke tree van geloof gehoorsaam wat Ek aan jou wys. Alles wat Ek doen, die maniere waarop Ek jou lei, is tot jou voordeel en my verheerliking.