Gedagte vir die dag: Elke môre nuut

vrou_arms_uitgestrek_sonsondergang_see.png

Foto: onestoneaway.com

Lees: Klaagliedere 3:18-26

Dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. (Klaagliedere 3:21-23)

Ons was die hele maand met genade besig en het besin oor die verskillende eienskappe van genade: dit is onverdiend, gratis, God skenk dit aan elkeen van sy kinders, as ons Jesus liefhet, behoort sy genade reeds aan ons. Tog kom daar tye dat ons nie God se genade fisiek ervaar nie – ons weet dit is daar, maar dit word nie ’n werklikheid in ons lewe nie, daarvoor gaan dit net té sleg met ons. Jeremia was in so ’n posisie. Hy het gedink dit is klaar met hom en met sy hoop op die Here, maar deur God se liefde het hy nie vergaan nie, getuig hy in Klaagliedere 3:22. Hy ontdek die bemoedigendste aspek van genade tydens sy krisistyd toe alles verkeerd loop: God se liefde behoort steeds aan hom, God gee steeds vir hom om, sy genade kán nie opraak nie, dit is elke môre nuut.

Selfs te midde van die grootste aanvegtinge weet God se kinders dat al wil vandag se seerkry en swaarkry hulle voete onder hulle uitslaan, daar tog ’n nuwe môre op hulle wag – ʼn môre waarop God se genade vir hulle weer nuut sal wees. Voel jy swartgallig en moedeloos soos Jeremia? Ontdek dan vandag saam met hom dat God se genade vir jou ook elke dag nuut is, jy kan dit elke dag maar weer joune maak.

Hemelse Vader, ek loof U dat ek te midde van my eie stuk swaarkry kon ontdek dat u genade vir my elke dag splinternuut is, dat U dit vandag opnuut tot my beskikking wil stel. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Estelle ·

Ek het U lief my Vader en kan nie wag om by U te wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.