Gedagte vir die dag: Elkeen het ’n gawe

oorgawe.jpg

Argieffoto

Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee. En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. (Ef 4:7, 11-12)

Lees Efesiërs 4:7-12

Die kerk is ’n eenheid, al verskil gelowiges van mekaar omdat elkeen van hulle ’n eiesoortige gawe van God ontvang het. Geen mens is met hierdie gawes oorgeslaan nie, alhoewel die omvang en grootte van ons gawes hemelsbreed kan verskil. Ons moet dus elkeen leer om ons eie gawe te ontdek en te ontwikkel en dit nie gedurig met die gawes van ander Christene te vergelyk nie, maar ons gawe eerder in diens van God en tot voordeel van ons medegelowiges gebruik.

Paulus skryf hier aan die gemeente in Efese oor die verskillende ampte van die kerk. Die gawes wat hier genoem word, is spesifiek bedoel om die kerk toe te rus en op te bou om diens te lewer, om saam te werk aan die opbou van die liggaam van Christus. Elke lidmaat het sy eie spesifieke funksie in hierdie opbouproses en daarvoor behoort hy sy persoonlike gawe aan te wend. As die hele span in liefde saamwerk, sal die kerk gebou en verstewig word.

Jy hét ’n persoonlike gawe van God ontvang. Sorg dat jy jou gawe só gebruik dat jou gemeente daardeur opgebou en God daardeur ver heerlik word.

Hemelse Vader, dankie vir genadegawes wat U aan my toevertrou het. Ek wil myne graag gebruik om U te verheerlik en my gemeente op te bou. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.