Julle oordeel volgens die uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. (Johannes 8:15)
Ons gesin hou daarvan om in ongerepte plekke te gaan kamp: weg van enige winkelsentrums, besige omgewings en mense. Ja, stilte maak ons siele weer skoon, verkwik ons weer. Juis daarom soek ons altyd vakansieplekkies uit waar daar nie baie mense is nie.
So gebeur dit dat ons een jaar weer op ’n afgesonderde stukkie aarde kamp en die vrede indrink, totdat ander kampeerders hul tente langs ons s’n opslaan. Die een tent nog so half voor ons wonderlike uitsig op die see. Onmiddellik is ons woedend. Ek sommer dadelik hartseer: “Here, ek wou so graag ’n bietjie ruimte voor my hê sodat ek turend oor die see kon asemskep. Nou voel dit of iemand my vrede gesteel het!” En dadelik is ons so halfveroordelend teenoor ons nuwe bure.
Hoe skaam was ek toe ek, nadat ons moeite gedoen het om hulle te leer ken, besef dat hulle ook maar net vrede-soekers is! Hulle is ook mense op soek na stilte en rus. Mense wat ook maar net ’n behoefte gehad het om in stilte die natuur in te drink. En dat hulle – soos ons – met konsiderasie teenoor ander leef.
Kom ons onthou altyd: Elke ander mens verdien ook sy/haar vrede-staanplek. Ja, kom ons maak plek vir mekaar: in ons lewens, maar veral in ons harte.
Gee aan my ’n ruim hart, ’n oop hart vir ander, Here.