Gedagte vir die dag:  Engele en duiwels

Kerk_ou-gebou_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Matteus 2:13-18

… daar (het) ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: “… Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak”. (Matteus 2:13)

’n Engel van die Here het destyds aan Josef verskyn om hom die waarheid oor sy verloofde se swangerskap te vertel (vgl. Matt 1:20- 23). Nou, ná die geboorte, verskyn daar weer ’n engel aan hom om hom Egipte toe te beduie, ver weg van die boosheid. Intussen sou ’n engel mos ook ’n draai by ’n klompie skaapwagters duskant Betlehem maak …

Die boodskappers van lewe, gestuur deur die God wat lewe gee. Aan die ander kant was daar Herodes die bedreigde koning. Die sterrekykers het nie net die Geboortester raakgesien nie; hulle kon ook sommer dwarsdeur hom sien, die geslepe kindermoordenaar. So word die skeidslyne uit die staanspoor getrek, pas ná Jesus se geboorte. Lukas sou ons mos van ene Simeon vertel wat voorspel het dat Jesus ’n teken sou wees wat weerspreek sou word. Deur Hom sal baie se gesindheid aan die lig kom, het die ou grysaard gesê (vgl. Luk 2:34-35).

Eintlik het niks nog verander nie. Sedertdien sou baie ’n engele- stem hoor en vol blydskap daarop reageer, en ander sou duiwelse planne beraam.

Maar dít sou die wêreld en sy duiwels by Jesus leer: Waar Hy is, het die lewe die laaste woord. Boosheid het wel steeds baie te sê, te skreeu, uit te gil. En vir gelowiges klink dit alte dikwels of dit die enigste hoorbare stem is, juis ook omdat bose geraasmakers dikwels daarin slaag om goedheid stil te maak.

Maar God se kinders weet hoe om engelestemme te hoor: Dit kom soms soos ’n liedjie na hulle toe, soms soos ’n droom. Dit bring altyd, áltyd lewe.

Hou aan om met my te praat, Here, juis in hierdie dae.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos

Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.