Gedagte vir die dag: Entoesiasme is aansteeklik

Argieffoto

Argieffoto

As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart. (Romeine 12:8)

Party godsdienstiges is so “entoesiasties” oor hulle geloof dat jy nie die verskil tussen hulle en ’n stopstraat kan raaksien nie! Entoesiasme vir Christus trek ander se aandag. Dit is mense wat oorloop van opregte liefde vir Hom wat ander se belangstelling gaande maak. Dit is diegene wat hulle eie gerief en veiligheid opoffer wat ander mense rondom hulle aanspreek.

Daardie vuur van die hart is waaroor dit gaan. Daardie brandende liefde wat oorloop in onselfsugtige diens vir ander in Jesus se Naam is altyd die lewende Bybels wat ander mense eerste raaklees. Woordelose taal praat steeds kliphard hier in ons eie dag. Nee, dit praat die hardste. Eers wanneer ander dit sien, hoor en ervaar, stel hulle belang in al die feite van die Bybel.

Die regte informasie oor God se Woord is vir seker lewensbelangrik, maar dit vra altyd om mense wat die goeie nuus entoesiasties uitleef. Dan kom informasie en transformasie vanself in pas met mekaar.

Bron:
Op God se genadepad deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leendert ·

Mens kan dit ook positiewe aktivering noem. Neem, met positiewe energie, mense saam die toekoms in. Dit is egter ook nodig om die realiteite in die oë te kyk en dan krities oor die werklikhede om jou te besin. Die negatiewe moet met positiewe en werkbare inisiatiewe uit die weg geruim te word, dit ook laat mens positief voel, dat daar oplossings en ‘n werkbare toekoms is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.