Gedagte vir die dag: ’n Erfenis in die hemel

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Matteus 25:34-46

Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink … Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het my verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek. (Matteus 25:34-36)

Met Jesus se wederkoms sal Hy oor almal oordeel, skryf Matteus. Die mense wat volgens God se voorskrifte geleef het, sal sy koninkryk in besit neem. Alhoewel almal uit genade gered word omdat ons in Jesus glo, verwag God van ons om goed te doen terwyl ons op die wêreld is, sodat ons die koninkryk van die hemel as erfenis in besit kan neem. ‘Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen,’ sê Jesus (Matt 25:40). Maar dié mense wat nie in Hom glo en nie ander wou help nie, sal weggewys word en die ewige straf ontvang (v 46).

Hierdie Skrifgedeelte sê vir ons dat ek en jy eendag deur God geoordeel sal word volgens die ontferming wat ons aan ander mense bewys het. As jy tot nou toe onbetrokke was by ander, is dit nog nie te laat om hulle te help nie. Die manier waarop jy ander mense help, is ’n getuienis van jou liefde vir God – Hy is so goed vir jou; sal jy dan nie ook aan ander goed doen nie?

Here, vergewe my my gebrek aan deernis met ander. Maak my gewillig om ander mense by te staan en te help, want U het die ewige lewe belowe aan dié wat u wil gedoen het.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.