Gedagte vir die dag: Ernstige Christenskap

blomme_tuin_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek. (Kolossense 3:3)

Selfs al was Jesus die Seun van God, was Hy in alles gehoorsaam aan sy Vader se vereistes. Toe Hy van Galilea af kom om deur Johannes die Doper in die Jordaan gedoop te word, het Johannes vir Jesus gesê dat hy nie waardig was om Hom te doop nie (Matteus 3:14).

Alhoewel dit waar was, het die Here gesê: “Wag nou! Ons moet God se wil juis op hierdie manier gehoorsaam” (Matteus 3:15). Is dit nie ’n goed genoeg rede vir elke gelowige om gedoop te word nie? Ek praat nie van die inseëning wat plaasvind as ’n baba gebore word nie; ek praat van ’n totale onderdompeling in water. As Jesus gedoop is, moet ons ook gedoop word.

Daar is baie mense wat so vasgevang is in tradisie dat hulle eintlik van God se Woord afwyk. Ons kan nie dit doen nie – ons moet gehoorsaam wees aan wat die Skrif sê, nie aan wat ons vriende en familie sê nie.

Ons moet God se Woord gehoorsaam. As die Woord (“Jesus in druk”) sê dat ons gedoop moet word, moet ons ag slaan daarop. Ons is nie hier om mense te behaag nie; ons is hier om gehoorsaam te wees aan dít wat die Heilige Gees sê ons moet doen.

Ernstige Christenskap beteken om terug te keer na die Woord van God en te doen wat die Bybel sê, nie wat ons dínk die Bybel sê, of wat ander mense dink die Bybel sê nie. As Jesus sê ons moet in die hele wêreld ingaan en die evangelie verkondig, dissipels maak en hulle in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees doop, moet ons dit doen! As jy doen wat die Here sê jy moet doen, sal Hy jou eer en seën.

Here God, dankie vir die voorbeeld van u Seun, Jesus Christus, wat U uitdruklik gehoorsaam het. Ek wil ook gehoorsaam wees aan u Woord en aan die Heilige Gees. Prent dit in my hart in dat ek die Bybel letterlik moet gehoorsaam. Mag ek nooit aan die betroubaarheid en die geloofwaardigheid daarvan twyfel nie. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.