Gedagte vir die dag: Ewige arms

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Die ewige God is jou skuilplek en onder jou is sy ewige arms. Hy verdryf die vyand voor jou uit. (Deuteronomium 33:27)

Kinders voel volkome seker en veilig wanneer hulle in die arms van hulle ouers is. Hulle voel aan dat niks hulle kan seermaak terwyl hulle omvou word deur die liefdevolle arms van hulle ma of pa nie. Dit is omdat hulle sonder twyfel weet dat hulle ouers sal doen wat ook al nodig is om vir hulle te sorg. Selfs al woed daar ’n storm buite, selfs al raak alles rondom hulle baie deurmekaar, kan een aanraking van ’n ouer vir hulle vrede bring.

God hou ons ook so vas, elke oomblik van elke dag. Ons kan by Hom gaan staan en Hy sal sy ewige arms rondom ons vou. By Hom is ons veilig en beskut teen alle gevaar. Daar is geen bedreiging waarvoor ons bang hoef te wees nie, geen gevaar wat ons ewige veiligheid sal kan vernietig nie, geen ramp wat ons kwaad sal kan aandoen nie, want God se ewige arms is onder ons en hou ons vas. Selfs al gebeur die heel ergste, sal sy sterk arms steeds onder ons wees. God hou ons vas, en ons kan ontspan in sy omhelsing. Wat ’n prentjie van volmaakte vrede!

Terwyl ons leef deur te glo, hou God ons regop. Dit is hoekom ons met vrymoedigheid risiko’s kan waag. As ons aanvoel dat God ons geroep het om iets te doen, kan ons in geloof uitgaan en weet dat Hy ons vashou. Ongeag wat gebeur – selfs al misluk ons en al maak ons baie foute – sal God ons nie laat val nie. Sy ewige arms is rondom ons en Hy sal ons tot in alle ewigheid nooit laat los nie.

Ek gryp jou regterhand vas. Ek is die Here jou God. En Ek sê vir jou: “Moenie bang wees nie. Ek is daar om jou te help!“ – Jesaja 41:13

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.