Gedagte vir die dag: ’n Ewige belegging

Reenboog_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie. (Kolossense 3:1-2)

Waarin belê jy? As jy die TV aanskakel of ’n koerant oopmaak, kan dit nogal ontmoedigend wees. Die ekonomie staan op sy kop en dit lyk asof daar maar min stabiliteit is. Baie lande is blykbaar bankrot, of baie naby daaraan. Waarin belê jy dus? Belê jy in die dollar? Wel, met die dollar gaan dit nie altyd goed nie. Belê jy in eiendom? Daar is ook geen gewaarborgde stabiliteit in die eiendomsmark nie.

Ons moet in ewige dinge begin belê.

Ek het Israel al ’n hele paar keer besoek en die fondament van die tempel gesien, wat met stene groter as my hele huis gebou is! Al wat oor is van die tempel is die fondament; die res is weg. Jesus het geprofeteer dat dit verwoes sou word en dit het ook gebeur (Lukas 21:5-6). Dit was die pragtigste gebou wat nog ooit in die geskiedenis van die wêreld gebou is, gebou volgens die spesifikasies wat God self gegee het. Hoe manjifiek moes dit nie gewees het nie. Ons weet egter dat die tempel mettertyd herbou sal word en kan berusting daarin vind.

Moenie jou vertroue in die mens of in fisiese dinge stel nie – vertrou op God en op niks en niemand anders nie. Jesus het gesê die hemel en aarde sal vergaan, maar die Woord van God sal ewig bly staan (Lukas 21:33). Waarom luister ons na wat die koerante en tydskrifte en mense sê, maar ons luister nie na die Woord van God nie? Niks wat vandag in die wêreld gebeur, verras my nie, want dit word in die Woord van God voorspel. Kom ons keer terug na die basiese dinge; kom ons belê in die dinge van God en nie in die dinge van die wêreld nie.

Here God, ek weet dat U alleen in beheer van die wêreld is. Ek vind berusting in hierdie wete wanneer ek na die onstabiliteit en chaos om my kyk. Herinner my daaraan dat die dinge van die wêreld van korte duur is en dat ’n belegging in u koninkryk die beste belegging is wat ek kán maak. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.