Gedagte vir die dag: Ewige oorwinning

man_stap_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade? (Markus 8:36)

Jy onthou seker nog vir Jakob en Esau? Esau het sy eersgeboortereg vir ’n bord sop verruil (Genesis 25:27-34). Moenie so iets doen nie! Ons moenie die oorlog verloor in ’n poging om die veldslag te wen nie.

Een van die aangrypendste standbeelde wat ek al gesien het, is in die Krugerwildtuin. Dit is ’n standbeeld van Hennie Potgieter. Dit is twee koedoebulle met hulle horings ineengestrengel in ’n geveg tot die dood. Onderaan is ’n bordjie waarop staan: Oorwonne oorwinnaar.

Ek en jy moenie oorwonne oorwinnaars word nie. Wat in hierdie standbeeld gebeur het, is dat die koedoes se horings so ineengestrengel geraak het dat hulle nie weer van mekaar kon loskom nie. Daarom sou selfs die een wat die geveg gewen het, sterf.

Moenie mense te na kom en dink jy gaan wegkom daarmee nie. Want jy gaan nie. Moenie betrokke raak by oneerlike besigheidstransaksies nie, want jy gaan in die tronk beland. Jy maak op kort termyn dalk ekstra geld, maar jy gaan op lang termyn daarvoor betaal. Moenie met ongure karakters deurmekaarraak nie. Dit kan jou lewe vernietig. Moenie betrokke raak by iemand wat nie jou man of jou vrou is nie. Jy gaan vir die res van jou lewe daarvoor betaal.

Hou jou oë eerder altyd gevestig op Jesus. Onthou wat ons in Matteus 6:33 lees: “Maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.”

Doen alles op God se manier, en Hy sal vir jou die ewige oorwinning gee.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.