Gedagte vir die dag:  Familiesake

sonsondergang_familie_stiltetyd_pixabay-1.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Genesis 13:1-18

“Die hele land wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag”. (Genesis 13:15)

Terug Suidland toe met Abram en sy mense, broerskind Lot in- kluis. En nou draai die skrywer geen doekies om nie: Abram se fabelagtige rykdom word in verdere besonderhede beskrywe. Nie dat Lot juis by hom afgesteek het nie …

Soos dit maar met mense gaan, ook met familie, trek tweespalt saam. Die skrywer stel dit heel prosaïes: “Hulle besittings was te veel; hulle kon nie bymekaar bly nie” (v. 6).

Toe skei hul weë, maar nie sonder drama nie. Abram neem die inisiatief en staan terug: “Die hele land lê oop voor jou … As jy links gaan, gaan ek regs …” (v. 9). Kies jy eerste, sê hy vir Lot.

Dié laat nie op hom wag nie. Dit wat hy op die oog het, die hele Jordaanstreek, lyk vir hom soos ’n paradys en hy trek dadelik daarheen. Abram bly alleen agter, effens verleë. Straks voel hy te na gekom.

Maar Abram se Here ontmoet hom en gee hom perspektief. Kyk rondom jou, sê Hy, en sien hoe omvattend Ek vir jou sorg (vgl. v. 14).

Dit was vir eers troos genoeg vir Abram. Hy het sy tente by Mamre gaan opslaan en ’n altaar vir die Here-van-die-beloftes gebou. En daar op verdere opdragte gewag.

Naskrif: Dinge wat aanvanklik belowend lyk, blyk nie altyd só goed te wees nie. Oftewel: Dit wat bo blink … ruik dikwels sleg aan die onderkant. Lot se “tuin van die Here” (v. 10) waarheen hy met soveel haas versit, sluit toe vir Sodom in. Nie wonderlike vooruitsigte dáár nie, sou hy spoedig uitvind.

Here, U het my familie vir my gegee – en my vir hulle – as ’n veilige hawe. Leer ons om alles vir mekaar te wees wat U wil hê ons moet wees.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae