U laat my by ’n feesmaal aansit. (Psalm 23:5)
Kan God vir jou ’n tafel dek in die woestyn? Of anders gestel: Kan God sorg op ’n plek waar dit lyk of jy alles gaan verloor? Dit was die vraag waarmee Israel geworstel het en die vraag waarmee ek en jy ook dikwels worstel. Daar lê ook ’n ander vraag in ons binneste. As God dan vir my ’n tafel wil dek, waarom in ’n woestyn? Die antwoord verras ons altyd, al behoort dit nie. “Ek dek vir jou ’n tafel in ’n woestyn,” sê God, “want hierdie lewe is ’n woestynreis. Dit is ’n reis waarin oeste misluk en mense terminaal siek word en mense hulle huise en werk verloor en … ”
In ’n woestyn weet God dat ek en jy van tyd tot tyd nodig het om by sy tafel te kom aansit. God se keurig gedekte tafel vir jou sê dat Hy vir jou ’n toekoms met sorg beplan.
In die Joodse tradisie is die eerste tafel met Pase, daardie nag toe die Israeliete uit Egipte gevlug het, gedek. Dit was onder andere ’n maaltyd van voorbereiding vir ’n reis deur ’n woestyn. Elke tafel wat God dus vir jou dek, staan in daardie tradisie.
Pasga is ook een van die drie groot jaarlikse feeste op die Joodse kalender. Wanneer God vir jou ’n tafel dek, dek Hy ’n feestafel! Aan sy tafel word jy deel van ’n fees. Vir die Here is feeste tye van lag en vreugde en sang en blydskap. Tye waarin jy sy teenwoordigheid geniet en tafels oorvol van sy seën ontvang.
Ons weet dat hierdie lewe dikwels meer woestyntye as feestye inhou, maar omdat daar vir ons ’n feestafel in hierdie swaarkrylewe gedek is, kry ons dit tog reg om met vreugde te leef.
U, Here, het vir my ’n feestafel gedek waarby ek van tyd tot tyd by U kan kom aansit. Nou kan ek te midde van hierdie swaarkrylewe ook met vreugde leef. Amen.
Amen!
Amen
Amen