Gedagte vir die dag: Filippus: Die evangelie op die wa

Pad_vurk_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word? (Handelinge 8:36)

Saam met die twaalf het die Here ook ánder geroep, medereisigers op ons pad: ’n vlugvoetige diaken, ’n besondere vrou en ’n oorywerige Fariseër.

Kom ons begin by Filippus. Waaraan sou die hofdienaar op die wa alles gedink het? Hy moes met groot verwagting Jerusalem toe gereis het om die God van die Jode te ontmoet. Groot moes sy teleurstelling gewees het toe hy moes hoor dat ’n heiden nie in die tempel welkom was nie – laat staan nog ’n ontmande, ’n onreine, soos hy. Die lang pad, verniet! Êrens het hy darem ’n boekrol in die hande gekry: die profeet Jesaja. Maar wat hy lees, maak ook nie sin nie. Wie is die lam wat geslag is?

Dis op dié punt in die verhaal dat ons van ’n merkwaardige opdrag lees: “Filippus, trek jou hardloopskoene aan!” Filippus was een van die eerste diakens. Hy word gestuur om ’n onbekende man op ’n eensame pad te gaan ontmoet. Die Gees sê “loop” en die ywerige diaken hardloop! Daar op pad na Gasa het Filippus die Skrif vir die Etiopiër oopgesluit, het hy die man van Afrika aan sy Verlosser bekendgestel. Die eerste van miljoene Afrikane wat deur die eeue in die Naam van Jesus gedoop sou word.

Met wie identifiseer jy? Met die man op die wa wat na antwoorde, ’n ontmoeting met die Here, soek? Of sien jy jouself as die getuie wat hardloop om die Goeie Nuus te vertel? As jy in die eerste kategorie val, sal jy ook, as jy Jesus ontmoet het, jou reis met blydskap voortsit. En as jy in die tweede val, moet jy regstaan: Toe Filippus van die Etiopiër afskeid geneem het, was sy werk lank nie afgehandel nie. Nog opdragte het gewag!

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
FM

In enige van die twee kategorieë is dit van belang om ‘n ywerige werker te word. Here maak my ‘n ywerige werker vir U deur die krag van die Heilige Gees.
Amen

Yvonne

Dankie Here U genade loop my vooruit