Gedagte vir die dag: Finansiële terugslag

hande.jpg

Argieffoto

As jy jou goud as nikswerd beskou, die goud uit Ofiras so min werd as ’n klip in die spruit, sal die Almagtige jou goud wees, jou skat aan silwer. (Job 22:24-25)

’n Mens hoor gereeld van mense, en veral afgetredenes, wat hulle geld in die een of ander beleggingskema verloor het. Wanneer die saak ondersoek word, kom dit aan die lig dat dit niks anders as ’n piramideskema was nie wat uit die staanspoor daarop gemik was om mense in te loop. Hartseer stories word vertel van sulke “aangename en opregte makelaars” wat sulke “ongelooflike rente-opbrengs” belowe het. Ja, ongelooflik. Keer op keer hoor ons hoe die werklike kundiges maan dat iets wat ongelooflik klink regtig nie geloofwaardig is nie.

Maar die skade is gedoen. Mense verloor hulle spaargeld. Sommige mense verloor alles. Hulle moet iewers weer voor begin net om aan die lewe te bly. Eens onafhanklike ouers moet hoed in die hand by kinders intrek.

Dit is nie lekker nie, sagkens gestel. Maar dit kan nogtans tog iets besonders tot gevolg hê. ’n Mens kan ontdek dat aardse goed, die sekerheid van beleggings en ’n redelik hoë lewenstyl eintlik nie veel werd is nie. Een van Job se vriende het ten spyte van al die kere wat hy die bal mis geslaan het, hierdie keer ’n kishou geslaan: jou aardse goed is nikswerd. Laat God self jou goud wees. Ek ken mense wat dit ontdek het en ondervind het hoe die Here op ’n wonderbaarlike manier voorsien het.

Dis nie toevallig dat die eerste saligspreking op twee maniere vertaal word nie: salig is die armes, of salig is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Dit is die toppunt van geluk om te weet hoe afhanklik jy van God is. Al is jy arm. Miskien veral wanneer jy arm is.

Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.